Johen Petersen (17), ’n leerder van die Hoërskool Dirkie Uys in Moorreesburg, se vernuf op die hokkieveld duur voort.
Petersen neem eersdaags in September vir die tweede agtereenvolgende jaar aan die Kaapstadse Premier-hokkieliga (CPL) deel. Die hokkieliga verteenwoordig nie net die beste afrigters nie, maar ook die beste o.12’s, o.14’s, o.16’s en o.18-spelers wat in die Boland en Westelike Provinsie beskikbaar is.
Sy slag op die hokkieveld het reeds as gr. 3-leerder by die Laerskool Vredenburg begin skitter, hoewel sy passie vir die spel die vorige jaar al helder begin brand het, vertel hy.
Petersen het die eerste keer in 2019 aan die Boland-proewe deelgeneem, waarna hy as ’n o.12-speler vir die Barlinkaspan gekies is.
Drie jaar later is hy in die Boland-IPT se B-span opgeneem en het sy plek in die B-span vir die opvolgende jaar behou.
Dit was in 2023 die eerste keer dat hy die Premierliga se aandag getrek en lid van die Rebel-span geword het. Hy is in Desember verlede jaar na Nederland om daar as deel van die Top Skole-hokkiespan deel te neem.
Petersen was skaars terug toe hy op 17 Desember aan die binnenshuise hokkietoernooi as lid van die Cobra-span ’n tweede agtereenvolgende jaar deelgeneem het.
Sy sterstatus het voortgeduur en hy het vroeër vanjaar weer ’n plek in die o.18-Boland-IPT-B-span behaal, wat as wenners in ’n onlangse toernooi uitgeblink het.
Die Premierliga vind vandeesweek van 13 tot 15 September in Rondeboch plaas, waar Petersen weer die Rebelspan sal verteenwoordig.
Petersen geniet die sport, maar bieg dat dit die mense saam met hom is wat die spel so lekker maak.
“Ek voel dit is ’n Godgegewe talent wat ek gekry het en ek is baie dankbaar daarvoor,” vertel hy kort voor sy deelname aan vanjaar se Premierliga-hokkietoernooi.
Van die groot hoogtepunte vir hom was om drie agtereenvolgende jaar deel van die Boland IPT-span te kon wees.
Sy wens is om eendag sy nasionale kleure vir hokkie te verwerf.
Dit is ook die plan om ná matriek in ’n sportrigting te gaan studeer.
“Sport speel ’n baie groot rol in my lewe en ek sal graag ná skool wil aanhou met hokkie,” vertel hy opgewonde oor sy toekoms.





