Die strate van Abbotsdale word daagliks deur ’n groep inwoners en vrywilligers skoongevee.


Inwoners van Abbotsdale het onlangs saamgestaan en eienaarskap van hul dorp geneem omdat skoner strate al vir lank op hul wenslysie was.

Die inisiatief kom nadat ’n plaaslike gemeenskapsgroep besluit het om koppe bymekaar te sit vir ’n skoner omgewing en ’n beter gemeenskap. Sò verduidelik Rodney Esau, wat deel vorm van die Abbotsdale Drukgroep. Die groep is ’n geruime tyd gelede daargestel om hul plaaslike gemeenskap te dien en by te staan.

’n Span veërs en skoonmakers is deur die groep verkies en hulle het op Dinsdag 14 Mei die strate met besems ingevaar. Die span bestaan uit tussen 10 en 17 inwoners wat verlede week daagliks gevee het. “Die strate is sommer vinnig skoongemaak,” sê Esau opgewonde. Die aksie het kort voor lank onder inwoners vlamgevat en vrywilligers aangesteek om ook die strate met hul besems aan te pak. “Die inwoners is baie trots op die projek,” voeg Esau dankbaar by.

Die vangputte sal op ’n latere stadium skoongemaak word. Hy moedig inwoners aan om daagliks ’n tydjie af te knyp om hul eie erwe ook skoon te maak en skoon te hou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article