Mitchell Maarman (15) van Moorreesburg is besig om spoedig die leer van ’n topatleet te klim nadat hy die afgelope naweek vir die soveelste keer gedurende ’n SA Skole-atletiek se Top 10-byeenkoms in Oudtshoorn ’n eerste plek op ’n drafstap losgehardloop het.
Mitchell, oudleerder van Laurie Hugo Primêre Skool en die Hoërskool Moorreesburg, het Saterdag (12 Oktober) die 400m gehardloop – ’n item waarin Marchell de Klerk, ook van Moorreesburg, geweet het hy eendag in goed sal vaar. De Klerk het Mitchell se talent as laerskoolleerling by die Laurie Hugo Primêr op die atletiekbaan opgemerk en gehelp dat hy ’n beurs by die Hoërskool Stellenbosch losslaan, waar hy behoorlik as atleet sal kan floreer. Volgens sy ma, Jessica, en sy pa, Michael, was De Klerk se verwagtinge van hul seun in die kol.
Mitchell se vernuf vir naellope het reeds op ’n jong ouderdom as graad 1-leerder by Laurie Hugo begin deursyfer, hoewel die belangstelling om te presteer nog nie werklik daar was nie, skerts sy ma. Jessica vertel Mitchell se talent loop deur sy ouers se gene aangesien sy ma en pa reeds op laerskooldae op die atletiekbaan presteer en Suid-Afrikaanse kampioenskappe behaal het.
Haar oudste seun, Jevino, was ook ’n uitstekende atleet, voeg sy trots by.
Hul ouers se talente het uiteindelik na hul twee seuns oorgespoel, wat vinnig gewys het wat hulle met spoed kan vermag. Mitchell se broer het op sy beurt wel van graad 1 af eerste plekke begin aanteken totdat sy atletiekloopbaan in graad 3 weens ’n bloedklont in sy heup kortgeknip is. “Hy het nou ’n skroef in sy heup wat hom daarvan weerhou het om aan te hou hardloop,” vertel sy ma.
Jevino het sy gesin egter in graad 7 verbaas toe hy besluit het om teen die dokter se raad te gaan en weer sy rol as atleet voort te sit. “Hy het tot in matriek gehardloop en goed gevaar, maar besluit om dit nie verder te vat nie.” Jevino se verhaal het egter as voorbeeld vir Mitchell gedien deur te bly glo en nie te vinnig tou op te gooi nie.
Atletiese prestasies het nie so vinnig vir Mitchell gekom nie, hoewel sy ma gesien het hy het wel talent. “Hy het aanvanklik nie baie belanggestel nie. Ons wou hom nie druk nie en het hom gelos, maar hy het ons almal verbaas. Mitchell het vir die eerste keer as graad 3-leerder Boland-kleure vir die 100 m- en 200 m-items verwerf.
Hy het sy atletiekloopbaan op hoërskool voortgesit, waar De Klerk gesien het hierdie seun sal ’n 400m kan hardloop. Hy het daar en dan besluit om namens Mitchell vir ’n beurs aansoek te doen.
“Hy was een van die eerstes wat die beurs ontvang het,” voeg sy ma by.
Mitchell het vanjaar met talle eerste plekke in die 400m meter weggespring – soveel so dat hy sy WP-kleure reeds vroeg in die jaar verwerf het. “Mitchell is ’n geweldige gelowige mens. Ons was in ’n stadium gedurende die jaar bekommerd, maar hy het net gesê ons moet bly glo,” lag sy ma. “Ek het geskrik,” vertel sy toe hulle sien hoe baie talent hy werklik het.
Dit gaan vir hulle egter nie net oor die sport nie, maar ook oor akademiese prestasie. “Ons het vir hom gesê hy moet sy sokkies optrek,” voeg Jessica by met verwysing na ’n swak akademiese rapport einde verlede jaar en aan die begin van vanjaar. “Mitchell het weer eens gesê ons moet net glo dat hy ons verkeerd gaan bewys.” En dit was so. Sy punte het met elke kwartaal begin verbeter. “Tot sy onderwysers praat net met lof van hom. Hy het so goed aangepas,” sê sy trots.
Mitchell het vir sy ouers gevra om niks op sosiale media oor sy atletiese prestasies te plaas nie totdat hy die dag op televisie Suid-Afrika by die Olimpiese Spele gaan verteenwoordig. “Ons mag glad nie met hom spog nie. Hy is ’n nederige mens en dra ook glad nie sy geborgde klere deur Nike en Puma wanneer hy Moorreesburg toe kom nie. Hy sê altyd daar is kinders wat niks het nie. Dieselfde geld vir kos,” verduidelik Jessica verder. Hoewel Mitchell op gesonde maaltye fokus, dink hy altyd aan dié wat nie kos het nie. “Hy sê altyd, ‘ons dink nie’.”
Mitchell het selfs versuim om die vorige naweek se Top 15- atletiekbyeenkoms in Stellenbosch met sy ouers te deel.
“Ek het ’n video van ’n ander ma, wat van Bethlehem af kom, gekry. Ek het skoon gehuil toe ek dit sien,” lag sy. “Hy wou weer eens nie hê ons moet onnodig spog nie.”
Die nuwe skoolhoof by die Hoërskool Moorreesburg het met die plasing van die televisiemateriaal waar Mitchell in Stellenbosch hardloop, aan sy ouers gevra of hy maar gedurende hul saalbyeenkoms wel met sy prestasie, asook akademiese prestasie, mag spog.
“Die skoolhoof wil ander leerders deur Mitchell inspireer en wys as hulle wil, hulle ook kan bereik wat Mitchell sover bereik het,” vertel sy trots.





