Bonnievale Spar het Donderdag die wenner van sy motor-kompetisie aangekondig.
Spar het die afgelope ruk ’n landwye kompetisie aan die gang gehad, waar mense spesifieke produkte moes koop om vir die kompetisie in te skryf. Oscar Shcrenk was een van dié wat die kans gewaag en ingeskryf het.
“Ek was verdwaas toe ek besef ek het die motor gewen,” het Schrenk verduidelik net nadat die aankondiging gedoen is.
Hy het ook gesê hy skryf nie gewoonlik vir kompetisies in nie, maar sy vrou het hom “opdrag gegee” om vir hierdie kompetisie in te skryf.
“Sy het my gestuur om die spesifieke produk te gaan koop sodat ek kon inskryf. En natuurlik gee ek hierdie motor vir haar.”
Sy vrou, Charlotte, is selfs nog meer opgewonde oor die prys.
“Ek vra die Here al so lank al vir my eie karretjie. Ek kan net die Here prys vir hierdie motor,” het sy ekstaties gesê.
Hierdie nasionale kompetisie se wenners is bepaal deur middel van watter Spar die meeste van die kompetisie-produkte verkoop het. Bonnievale Spar se naaswenners het almal met lekker bederf-sakkies huis toe gegaan.
Die eienaar, Patrick Roseveare, was baie opgewonde dat sy Spar een van die motors kon weggee.
“Dit is regtig wonderlik om die motor te kon weggee. Wat dit nog beter maak, is dat dit slegs een van vyf was wat Spar hier in Bonnievale kon weggee,” het hy heel trots gesê.





