Die Robertson’s Angels se sop- en skoonmaakdag het baie helpende hande gelok. Foto:


Die Robertson’s Angels het onlangs ’n sop- en skoonmaakdag gehou.

Hulle het hawelose mense in die dorp gevra om verskeie strate te help skoonmaak.

“Agterna kon hulle elkeen ’n koppie sop kom kry. Ons het ook ’n klerebank waar sommiges iets warm om aan te trek, kon kies,” verduidelik Teresa Jonker.

Almal betrokke was verantwoordelik vir die skoonmaak van strate in verskeie gebiede van die dorp.

“Hulle het alles in sakke gesit en die munisipaliteit het die vullis kom haal.”

Jonker sê hulle wil graag eendag hul eie perseel hê.

“Ons soek ’n plek waar ons mense kan leer; waar ons mense wat op straat woon, kan rehabiliteer en leer hoe om skoon te maak, hoe om te stryk en hoe om later geld te verdien met die vaardighede wat ons hulle kan leer. Ons wil graag ook die haweloses eers op ’n koeponstelsel sit,” verduidelik Jonker.

Koepons word gewoonlik in plaas van geld gegee en kan dan ingeruil word vir kruideniersware.

Sy wil ook graag die breë gemeenskap aanmoedig om voor hul eie ondernemings en huise skoon te maak.

“Mense moenie altyd net die vinger wys nie, maar ons moet almal saamwerk om die voorkoms van dorp te verbeter en met die munisipaliteit hande vat,” het Jonker aan die Gazette verduidelik.

Die onlangse skoonmaakprojek het op gebiede soos Droëheuwel, Adderleystraat, Reitzstraat en Nkqubela gefokus.

Robertson’s Angels ontvang ook graag skenkings van kos, klere, sopbestanddele en nie-bederfbare blikkieskos en verkies dit bo geldelike skenkings.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article