’n Botsing reg van voor naby die Nuy-wynkelder tussen Robertson en Worcester Saterdag (29 Oktober) om 04:50 het die lewe van ses mense van Bonnievale geëis, insluitend dié van ’n baba en ’n kleuter.

Steve Delot (25), sy lewensmaat, Vontia Veenendaal (29), en hul dogter, Shaneqa Delot (4), het in die grusame botsing gesterf. Vontia se suster, Charlene Veenendaal (31), asook haar tannie, Eva Phillips (28) en haar babaseun, Evan Phillips (1) is op die toneel dood verklaar.

Volgens ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse provinsiale verkeer, Jandre Bekker, blyk dit die donkerkleurige Volkswagen Golf waarin die ses passasiers van Worcester in die rigting van Robertson gereis het, het in die vragmotor vasgery.

Die vragmotorbestuurder is weens ligte beserings na die plaaslike hospitaal geneem.

AO Vatishwa Jacobs van die Worcester-polisie het aan Gazette gesê die bestuurder van die vragmotor het in sy verklaring gesê twee voertuie was besig om mekaar oor ’n sperstreep naby Mowershoogte verby te steek.

“Die vragmotorbestuurder het geen manier gehad om die botsing te vermy nie en die Volkswagen het reg van voor teen die swaarvoertuig gebots. Die vragmotorbestuurder het dadelik die polisie in kennis gestel. Die ander voertuig het van die toneel af weggery. ’n Klag van strafbare manslag word ondersoek,” verduidelik Jacobs.

’n Familielid het aan Gazette vertel hulle is verpletterd oor die afsterwe van hul naasbestaandes.

“Ons het die hele oggend gebel, maar daar was geen antwoord nie,” vertel Roselda Bothman. “Hulle moes by familie in Aghulas aansluit en ons het bekommerd geraak. Ons het toe gehoor daar was ’n botsing buite Worcester en ons het gery om te gaan kyk.

“Dit was toe inderdaad hulle.”

Bothman sê hierdie botsing het ses van hul geliefdes weggeruk, en die seer lê diep.

“Ons weet alles gebeur met ’n rede en ons moet vertrou op God se plan. Ons kan nou net by Sy voete rus en hoop dit bring troos. Ons was almal baie geheg aan mekaar en kan steeds nie eintlik glo dat hulle net weg is nie.

“Ons is diep geraak.

“Ons kan nie eintlik beskryf wat ons tans voel nie.”

Sy sê elkeen het ook ’n spesiale plek in haar en die res van die uitgebreide familie se harte gehad.

“Ons sal Steve met sy glimlag onthou. Hy was liefdevol en het vir almal altyd ’n bynaam gehad. Sy twee dogtertjies was ontsettend lief vir hom. Hy was wonderlik. Vontia was spontaan en vriendelik. Sy het altyd die blinkkant bo gehou. Charlene was ’n grapjas. Sy kon altyd die vertrek ophelder. Die twee kinders was albei lief vir hul ouers en ons was net so lief vir daai twee. Eva was iemand wat respek vir haar medemens gehad het. Dit is sulke goeie mense wat nou van ons weggeneem is. Die liefde is waarop ons nou gaan fokus. Die liefde is wat ons gaan onthou.”

Die familie het nog geen begrafnisreëlings getref nie, maar sal binnekort besonderhede daaroor bekendmaak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article