Steven Swart (39), alom bekend as Smiley van SSS Security-dienste, is vandag terug op sy pos nadat hy Maandag 16 September ’n noue ontkoming met een van die mees gevreesde diere ter wêreld gehad het.
Swart, wat verlede maand byna deur ’n Kaapse kobra gepik is, is vandag dankbaar teenoor die Here wat hom vir nog ’n dag gespaar het. Sy hart klop ook warm as hy dink aan al sy kliënte en die plaaslike gemeenskap van Malmesbury wat hom deur die angswekkende tyd bygestaan het.
Swart was op die betrokke dag besig om ’n nuwe hekmotor in Riebeek-Kasteel by een van sy kliënte te installeer toe hy skielik iets hoor. “My werknemer en regterhand Peter Ceaser het iets gesê. Toe ek opkyk, voel ek net my gesig is nat en hoor hoe hy skree ‘slang!’. Nie een van ons het vooraf die slang gesien nie, maar Ceaser het alles gesien gebeur.”
Swart was op daardie oomblik sowat 5 cm van die slang af weg waar hy besig was om die hekmotor in te bou.
Die kliënt het plastiek sifdraad teen die hek geplaas om te keer dat haar hond kan uitkom, verduidelik hy. Daardie sifdraad was uiteindelik Swart se redding.
Eduanne Niemand, die stigter en eienaar van Boland Snake Removals 24/7 and Pest Control en met wie Swart ná die voorval gesels het, verduidelik dat die slang se bek gelukkig teen ’n draadjie gehaak het, die giftand se vlies gelig het en die slanggif so vrygelaat het. Volgens Niemand kon die gif gemaklik oor daardie kort afstand afwaarts tot in Swart se oog spat.
Die gif het nie net in sy oog en op sy vel beland nie, maar ook in sy mond, vertel hy.
LEES OOK | Slangseisoen is nie tyd vir speletjies
Swart se oog het ’n paar sekondes daarna begin krap en brand en sy visie was ook belemmer. Hy kon egter weer effens sien nadat hy sy oog op die perseel gaan uitspoel het.
’n Vriend van Swart, wat hy om hulp gebel het, het intussen vooruit na die nuwe Crestcare-hospitaal in Malmesbury gebel om te laat weet hulle is op pad – dít terwyl Swart self in sy voertuig geklim het en besig was om na die hospitaal te “jaag”. Met sy aankoms het die dokter aan sy vriend gesê hy moet hom na Mediclinic Paarl toe neem. Swart het met sy aankoms dáár onmiddellike behandeling ontvang. “Ek wou die heeltyd aan die slaap raak, maar hulle het my wakker gehou,” voeg hy by.
Swart is dieselfde dag nog met die nodige medikasie ontslaan. Die gif het nie tot in sy bloedstroom beland nie.
Volgens hom het sy oë met sy ontslag steeds gekrap en sy gesig het bly jeuk. Die dokter het Swart vir sowat ’n week afgeboek, maar hy het ná drie dae weer in die kantoor begin werk.
Swart se oog en gesig het ná sowat twee weke begin beter voel, hoewel sy vel steeds vir die son gevoelig is, vertel hy. “Ek moet maar my sonbril dra omdat my oog ook nog sensitief is,” voeg hy by.
Swart is boonop allergies vir heuningbye, wat die simptome veel erger maak, verduidelik Niemand op sy beurt.
Swart dink terug en bieg dat dit nie ’n lekker ervaring was nie. “Ek het maar net weer eens besef hoe geseënd ek is en dat die Here my gespaar het.”
Die dokter by die Mediclinic Paarl-hospitaal het bevestig as dit nie vir daardie draad was nie, hy groter moeilikheid sou gehad het, voeg Swart by.
Volgens hom weet hulle glad nie hoe groot die slang was nie nadat ’n plaaslike slangvanger van Riebeek-Kasteel nie die slang kon opspoor nie.
Swart was behoorlik oorweldig deur die ondersteuning wat hy ná die voorval van die gemeenskap en kliënte ontvang het. “Ek het boodskappe van mense wyd en syd gekry. Die ondersteuning was daar en dit het my baie deurgedra en positief gehou,” sê Swart dankbaar.




