Vanya en Anya-Larissa het verlede week hul M-grade by die US-gradeplegtigheid ontvang.

Credit: SYSTEM

Drie van Marius Botha van Malmesbury se gesinslede het verlede jaar in die Ou Hoofgebou in Stellenbosch klasgedraf. Uiteindelik het twee hul regsgrade cum laude verwerf en die derde was hul ma, Vanya, wat haar meestersgraad in die sakkie het.

Vanya, ’n landdros vir die Kaapstadse streekshof, het altyd gedroom van ’n M-graad in regte. Toe Marius en Vanya se jonger dogter, Doné, haar in 2021 gereed maak vir haar finale jaar in B Rek.LLB en ousus Anya-Larissa regmaak vir haar meestersgraad in regte (LLM), het Anya-Larissa haar ma aangemoedig om ook die M-kursus aan te pak.

“Dit was baie spesiaal om weer klas te loop in dieselfde gebou waar ek 30 jaar gelede geswot het,” vertel Vanya (54). “Om dit saam met my dogter te doen, was ongelooflik. Anya-Larissa se hulp was waardevol, al was sy vir ’n deel van verlede jaar ’n uitruilstudent in Nederland.

“Daar was tye toe ek gewonder het wat my besiel, want ek het gewerk en geswot, en vir die eerste keer is ek gekonfronteer met die aflê van aanlyn eksamens.

“Uiteindelik is ek bly ek het vasgebyt en my droom bewaarheid. Ek is dankbaar vir die ondersteuning wat ek ontvang het van dosente, kollegas en my gesin; Marius het ’n jaar lank al ons aandetes aleen gemaak sodat ek kon studeer.”

Hoewel die meeste werkende studente hul LLM oor twee of drie jaar verwerf, het Vanya dit binne ’n jaar voltooi. Sy en Anya-Larissa het verlede week hul M-grade by die US-gradeplegtigheid ontvang.

Doné het haar B rek. LLB tydens die Desember-gradeplegtigheid ontvang.

Ek het baie op persoonlike en akademiese gebied gegroei,” vertel Vanya. “Om te luister na studente van oor die wêreld heen, hoe hulle in ekstase is oor Suid-Afrika, om jonger mense se regsmenings en hul intense vertolking daarvan te hoor, was interessant – hulle is immers die toekomstige leiers op regsgebied!

“Die studies het my grense verskuif. Die M-graad fokus op internasionale wetgewing vir belangrike sake soos gedwonge verskuiwings, kinderregte en kriminologie. Regdeur alles het ek geleer wat is regtig belangrik in my lewe; waar moet my fokus lê.”

Hoe lyk Vanya se toekomsplanne?

“Doné doen vanjaar haar klerkskap by Bowmans-prokureurs; Anya-Larissa studeer vir haar doktorsgraad; een van my professore kontak my gereeld – sy wil hê ek moet my doktorsgraad aanpak. Maar eers wil ek net ’n bietjie tyd hê om hieroor te besin, want intussen het ek ’n nuwe aanstelling by my werk gekry; ek moet nog ’n maand lange kursus hiervoor bywoon.

“Ek sien alles wat met my gebeur, as ’n voorreg. Elke oggend as ek uit Malmesbury werk toe ry, kan ek nie ophou dankie sê vir al my seëninge nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article