Dit is nie aldag dat jy iemand gewaar wat met ’n Kaapse kobra om die arm gedraai vir ’n kiekie poseer nie, en dít boonop met ’n groot glimlag op sy gesig; nog minder wanneer hy die glibberige koue gevoel van die geel stert wat om sy arm krul, geniet nie.
Koos Laing van Malmesbury is die uitsondering. Hy vang slange – nie as ’n stokperdjie nie, maar vir sy groot liefde en respek vir dié spesie.
Laing (52), wat sedert 2001 in Malmesbury woon, het sowat twee weke gelede ’n Kaapse kobra van sowat 1,65 meter in sy tuin by hul strandhuis in Yzerfontein gevang.
Hy het op ’n plaas in die Rooi Karoo grootgeword, waar hy tot 21-jarige ouderdom nog net twee slange gewaar het. Hy het wel altyd as klein seuntjie met speelslange gespeel.
Laing het aanvanklik op ’n plaas in Malmesbury begin werk, waar baie slange was – hoofsaaklik Kaapse kobras.
“Daar was baie slange. Aan die begin het die werkers die slange vrekgemaak, totdat ek hulle begin vang en na afgeleë plekke na veiligheid geneem het,” vertel hy.
Volgens Laing het slange hul plek in die ekostelsel, en as hy die geleentheid kry om hulle te red, huiwer hy nie vir ’n oomblik nie. Vir hom is ’n slang ’n wonderlike ding. “Slange is vir my ook mooi,” sê hy.
Laing verduidelik hy gebruik altyd ’n lang voorwerp om die slange se kop baie versigtig plat te druk en in ’n posisie te hou sodat hy hulle kan vang.
Die slang wat hy onlangs in sy tuin by hul strandhuis in Yzerfontein gevang het, was die geelste en mooiste Kaapse kobra wat hy nog gesien het, sê hy.
Laing vertel sy hond wou dié dag net nie ophou blaf nie. Toe hy hom nie kon stilmaak nie, het hy die slang tussen ’n bos en ’n muur gewaar. Hy het ’n ysterpaaltjie beetgekry en die slang versigtig vasgepen sonder om hom te beseer, en agter die gekop gevang.
“Toe ek hom vat en optel, het hy sy stert om my pols gekrul. Ek het sy stert losgemaak en om my arm gerol,” sê hy.
Laing gebruik nooit ’n houer om die slange in te hou nie. Hy het in sy bakkie geklim, met die slang om sy arm – tot omstanders in die strate van Yzerfontein se groot vermaak – gery en dit by ’n afgeleë plek by die asgate losgelaat. “Ek skat hy was so 1,65-meter lank. Dit is die wonderlikste gevoel wanneer die slang jou so druk; ek kan dit nie beskryf nie. Dis lekkerder as ’n mooi meisie wat aan jou vat,” skerts hy.
Laing is nog nooit deur ’n slang gepik nie. Hy vang slegs slange wanneer hy op hulle afkom of as iemand hom roep vir hulp, wat nog nie baie gebeur het nie.
Laing sê ’n veearts woon naby sy huis in Yzerfontein, as iets verkeerd loop. Hy waarsku mense moet eerder nie ’n slang probeer vang as hulle bang is vir slange nie. Hy is glad nie bang vir slange nie, maar het die grootste respek vir hulle en is bewus van die gevaar.
“ ’n Spinnekop is egter ’n ander saak,” sê hy eerlik. “As ek moet kies tussen ’n slang en ’n spinnekop, is ek baie banger vir ’n spinnekop.”





