André Smith het verlede jaar as skrywer begin blom toe hy die algeheel tweede plek in die Afrikaans-afdeling in ’n nasionale kortverhaal-skryfkompetisie verower het.
Smith het sy debuutbundel, My Sandveldbos, in dieselfde jaar as ’n selfpublikasie die lig laat sien. Hy vertel: “Verlede jaar was inderdaad ’n hoogtepunt in my kort skrywersloopbaan. Ek het baie hard gewerk om uiteindelik in my doel te slaag, maar moet daarmee saam erken ek het elke oomblik van die reis terdeë geniet. Beide die kortverhaalbundel sowel as my debuutbundel is baie goed deur lesers ontvang en beide bundels is uitverkoop.”
Dinge het egter nie vir hom daar gestop nie. Smith het ’n uitgewer aan die begin van Mei genader om ’n tweede druk van My Sandveldbos te publiseer. Hy het in dieselfde tydperk ook ’n ander uitgewer genader om van sy nuutste werke te publiseer. Beide manuskripte is binne ’n rekordtyd van minder as ’n maand deur beide uitgewers vir publikasie goedgekeur.
“Ek was en is steeds in absolute ekstase oor die wonderlike nuus,” vertel Smith by sy woonstel in Riebeek Kasteel.
My Sandveldbos se tweede druk is deur Minimal Press-uitgewers in Kaapstad vir publikasie goedgekeur en sal teen die einde van September vanjaar in boekwinkels landwyd asook aanlyn beskikbaar wees.
Smith se tweede boek, met die voorlopige titel Die knokkerboom sal weer bot, is as manuskrip deur Malherbe-uitgewers, ’n uitgewersmaatskappy in Kwazulu-Natal, goedgekeur.
“My nuutste boek bevat ’n versameling inspirasie-stories en rubrieke wat ’n moet-lees is vir elkeen wat die uitdagings in ons land op ’n daaglikse basis probeer trotseer. Dis gevul met soveel hoop, lig, lag en inspirasie. Jy wil niks hiervan misloop nie,” vertel ’n opgewonde André.
Sy nuutste boek sal ook van Desember af landwyd in boekwinkels asook aanlyn beskikbaar wees.
Smith sê dit is vir hom ’n ongelooflik groot mylpaal dat twee uitgewers binne dieselfde week vir hom die goeie nuus gebring het dat sy manuskripte vir publikasie goedgekeur is. Vir hom is dit ’n kwessie van harde werk wat uiteindelik vrugte begin dra.
André is ’n gereelde rubriekskrywer vir Media24, Die Prins Albert Friend, ’n gemeenskapskoerant in Prins Albert, asook skrywer vir die aanlyn tydskrif Horison Media in die Noord-Kaap.





