Daniël Lotter Donderdag­aand by drie geslagte vroue wat saam kom luister het: Van links is Karien Bredenhand, Tarien van Aswegen en Janine Beyers. Foto: Sarie Nell


Die gevierde skrywer Daniël Lotter het verlede week by Malmesbury Boekklub meer vertel oor sy nuutste boek, Bloubloed.

Hy het vertel hoe sy belangstelling in die koningshuise geprikkel is toe hy en sy skoolmaats in Fraserburg se skool saam met hul onderwyseres na die troue van “lady Di” en prins Charles kon kyk. Hierna het verskeie onderwysers en kenners hom gehelp met boeke en inligting oor hierdie onderwerp. Uiteindelik het hy in twee Europese koningshuise gewerk voordat hy teruggekeer het Suid-Afrika toe en Protea Boekhuis hom gevra het om ’n boek te skryf oor mense met koninklike verbintenisse wat in Suid-Afrika woon.

Hy het onderhoudend vertel oor die uitdagings en verrassings op sy pad, die ironie daarvan om ’n lekker gesprek in Afrikaans te voer met ’n Suid-Kaapse boerseun wat ’n graafskapstitel dra en die kwessie dat Europa 37 koningshuise in 1914 gehad het, maar dat dit gekrimp het tot slegs 12 in 2024.

“Dit was een van die uitmergelendste boeke om aan te werk, maar ook die mees bevredigende boek,” was sy slotsom. Op ’n vraag oor lesse geleer uit sy navorsing, het Lotter verwys na ’n aanhaling op die agterblad van Bloubloed. Dit gaan oor die twaalfde hertog van Atholl, wat in Afrikaans verklaar dat hy in Suid-Afrika gewoond geraak het aan mense wat ewe adellik van binne is, al dra hulle geen titel nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article