Lee-Donovan April op die aanval vir Never Despair teen Darling op die Wesbank-sportterrein. Foto: David Rossouw


Never Despair het die Darling-rugbyklub Saterdag (15 Julie) op die Wesbank-sportterrein ontvang en ná naelskraapse oorwinnings deur die tweede en derde spanne van 8-5 en 11-10, was die tafel gedek vir klopdisselboom-Grootuitdaagbeker-rugby.

Die skare is nie teleurgestel nie en die twee spanne het uit die staanspoor gewys dat ’n bulstryd soos min op hande is.

Spairs het egter eerste bloed geruik toe hy die voortou geneem het nadat die skeidsregter Darling vir onkantspel gestraf het. Alexander Adams het geen fout met sy eerste skop pale toe gemaak nie. Hy het ’n 22 meter strafskop tussen die pale deurgejaag vir ’n voorsprong van 3-0 in die vyfde minuut van die wedstryd.

Darling het egter teruggeveg en vir drie minute, vyf agtereenvolgende losskrums in Spairs se 22-meter-gebied gewen voordat hy afgerond het vir ’n welverdiende drie langs die pale.

Earl Lewis het verdoel en Darling 7-3 te laat voorloop. Spairs se span het egter in die 15de minuut die kans gekry om die telling te laat krimp met ’n tweede strafskop, maar Adams se korrel was skeef verby.

Spairs en Darling se agterlynspelers het die skare op hul voete gehad met skitterende aanvalle, maar hanteerfoute op kritieke tye het hom weerhou om punte aan te teken.

Darling het sy tweede drie in die 30ste minuut van die eerste helfte behaal toe die voor- en agterspelers die bal lustig rondgeslinger het. Lewis kon egter nie met die doelskop slaag nie en die telling het aangeskuif na 12-3.

Spairs het Darling met vurige dryfmaalbewegings aan die raai gehou, wat ook tot sy eerste drie van die wedstryd gelei het. Adams se doelskop het die agterstand tot twee punte laat krimp. Met een minuut speeltyd voor rustyd oor het Spairs die bal met die agterlyn aangegee en sy tweede drie aangeteken vir ’n voorsprong van 17-12 – wat ook die rustydtelling was.

Neil Papier, Darling se afrigter, het tydens rustyd harde woorde met sy span gehad en ná die draaislag kon sy uitwerking op die spelers gesien word, want hulle het onmiddellik munt geslaan toe die voor- en agterspelers gekombineer en in die linkerkantse hoekie van die veld afgerond en die voortou met 19-17 geneem het.

Met versterkings van die reserwebank af het Darling sy bonuspuntdrie in die 10de minuut van die tweede helfte aangeteken toe hy ’n vasteskrum bemeester en oorgeval het, met Lewis in die kol vir ’n voorsprong van 26-17. ’n Strafskop deur Adams in die 20ste minuut (tweede helfte) het die telling tot 26-20 laat aanskuif.

Met vars impakspelers in die tweede helfte het Darling Spairs se houvas in die vassteskrums geneutraliseer. ’n Skepskop deur JP Abrahams in die 35ste minuut van die tweede helfte het die wedstryd laat swaai, want dit het beteken Spairs sou twee keer punte moes aanteken om die wedstryd te wen met toe nog net vyf minute oor.

Spairs, wat bekend is vir sy uithouvermoë, het tot die laaste minuut voluit gespeel en met twee minute speeltyd oor sy bonuspuntdrie aangeteken met Adams wat dit verdoel het om die telling tot 29-27 te krimp.

Hoewel Spairs aanval ná aanval in die laaste minuut afgestuur het, kon hy egter net nie Darling se verdediging breek nie. Darling het die opwindende wedstryd naelskraaps met 29-27 gewen.

“Ons reserwe-krag het ’n verskil in die tweede helfte gemaak en die manne het regtig die laaste vyf minute van Spairs se aanvalle weerstaan, want ons weet Spairs speel tot in die laaste minuut,” het Papier gesê.

“Ons het nie al ons kanse in die groenareas benut nie en was by tye te oorhaastig, wat ons die wedstryd gekos het. ’n Opdraandestryd wag nou op ons, maar niks is onmoontlik nie, maar dan sal ons ons kanse moet benut,” het Janaury gesê.

Spairs se vier drieë is gedruk deur Lee-Donovan April, Girshen Phillander, Delano Baartman en Alexander Adams. Adams het met twee doelskoppe en ’n strafskop geslaag.

Darling se vier drieë is aangeteken deur Earl Lewis, Wilden Maas, Chad Mckay en Lean Matthyse. Lewis het ook ’n doelskop verdoel, terwyl J.P Abrahams ook twee doelskoppe oorgesit en ’n skepskop wat die wedstryd geseël het.

Ander uitslae:
. Swartland

Porterville 12-22 Wesbank; Good Hopes 33-23 Abbotsdale; Saron 27-25 Moorreesburg; Villagers Wittewater 20-21 Riebeeck United.. Weskus

Koringberg 10-74 Saldanha; Langebaan 17-26 St. Helena; Velddrif 31-19 Vredenburg; Paternoster 35-19 Piketberg; Hopefield 14-12 Mamre.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article