Skenkings het ingestroom vir sowat 83 inwoners van wie 29 jonger as 18 is en wat verlede Sondagaand (8 Oktober) dakloos gelaat is nadat huise in Ilingelethu aan die brand gesteek is.
Dit volg nadat Wesbank en Ilingelethu in Malmesbury op 8 Oktober kort ná ’n gewelddadige mesaanval op ’n jong inwoner in ’n soort oorlogsone ontaard het.
’n Sewentienjarige seun is Sondagaand (8 Oktober) omstreeks 18:30 met ’n mes in die regterkant van sy bors gesteek, het Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, bevestig. Die presiese omstandighede oor wat tot sy dood gelei het, kon tot op hierdie tydstip nog nie bevestig word nie.
Die jong slagoffer is kort ná die voorval na die Swartland-hospitaal gehaas, waar hy aan sy wonde beswyk het. Twee van die slagoffer se vriende is ook tydens die voorval met ’n mes aangeval.
Die plaaslike polisie het daarin geslaag om die messteker in hegtenis te neem.
Die verdagte het verlede Dinsdag (10 Oktober) in die Malmesbury-landdroshof verskyn.
Volgens Helfrich het gewelddadige aksies glo tussen die gemeenskappe van Wesbank en Ilingelethu uitgebreek toe familie en vriende van die oorledene van die voorval uitgevind het.
Huise in Ilingelethu is aan die brand gesteek terwyl nog twee mans van Ilingelethu – onderskeidelik 48 en 50 jaar oud – met ’n mes doodgesteek is. Talle slagoffers het ook brandwonde opgedoen. Niemand is in verband met hul dood in hegtenis geneem nie.
Nabygeleë huise het ook aan die brand geslaan. Die plaaslike brandweer het daarin geslaag om die brande te blus, hoewel altesaam 14 huise, waaronder ’n winkel, in die slag gebly het.
Die uitvoerende burgemeester van die Swartland-munisipaliteit, Harold Cleophas, het sy medelye teenoor die familie en vriende wat deur die voorval geraak is, uitgespreek.
Die munisipale noodlenigingspanne het ná ’n behoeftebepaling in dele wat deur Sondagaand se geweld en brand geraak is, vasgestel sowat 16 families is sonder ’n heenkome gelaat.
Die munisipaliteit het besluit om humanitêre hulp in terme van hul beleid te verleen deur onder meer kos en komberse aan die slagoffers uit te deel.
Die afsnydatum vir skenkings was die pas afgelope Vrydag (13 Oktober). Die munisipaliteit is oorweldig deur skenkings wat van oral ingekom het. Skenkings sluit in klere, skoene, kruideniersware en huishoudelike inhoud.
“Ons sal nou so vinnig as moontlik deur al die skenkings werk en ingevolge al die slagoffers se behoeftes oorhandig.” Die munisipaliteit is genader vir hulp met huisvesting deur een gesin wie se huis heeltemal afgebrand het en reëlings is getref om hulle by te staan.
Noodhulpmiddels is uitgegee wat komberse en kospakkies ingesluit het.
“Namens die gemeenskap wil ons opreg dankie sê aan elke mens – individue en sakeondernemings of ander instansies wat skenkings gedoen het om die geaffekteerde inwoners te help. Dit word opreg waardeer.”


