Sinethemba, ’n organisasie sonder winsoogmerk, wat hom reeds die afgelope 21 jaar in Malmesbury op die welstand van ander in Malmesbury en omliggende gebiede toespits, het Maandag die strate in groot getalle gedurende ’n vreedsame optog ingevaar om ’n petisie aan die departement van gesondheid by die Swartland-hospitaal te oorhandig.
Dít volg nadat Sinethemba se gesondheidsprogram, wat gemeenskappe reg oor die hele Swartland bedien, se kontrak van 1 April vanjaar af nie deur die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement hernu is nie.
Volgens verteenwoordigers van die organisasie kom dié nuus dat hul gesondheidsprogram se kontrak met die departement binne nege van die 10 gebiede wat Sinethemba oor die streek bedien nie hernu is nie, as ’n groot skok. Die kontrak is glo aan ander organisasies sonder winsoogmerk buite die streek toegeken.
Heylin Williams, programkoördineerder by Sinethemba se Happy Hearts-program vir mense met gestremdhede, sê hulle het die nuus Vrydag 24 Maart ontvang. Volgens die bestuur was dit nie genoeg tyd om enige vertoë te rig nie, hoewel hulle Saterdag 25 Maart appèl teen die besluit aangeteken het. Die kontrak met die nuwe organisasies aan wie die tender wel toegestaan is, is verlede Maandag reeds geteken. Geen terugvoer is op Sinethemba se appèl ontvang nie. Volgens Sinethemba het hy nie ’n behoorlike oorname gehad of is die organisasie genoeg tyd vir die tuisversorgers en gemeenskapsgesondheidswerkers gegee om ’n ander werk te soek nie. Sommige van dié personeel het na wat verneem word intussen by die nuwe NPO’s wat wel die kontrak gekry het, vir werk aansoek gedoen.
Williams het die oomblik toe sy vir die inwoners betrokke by haar program moes vertel dat hul tuisversorger hulle nie meer gaan help nie, as hartverskeurend beskryf. “’n Baie spesiale band van vertroue vorm tussen die versorger en die pasiënt met ’n gestremdheid. Dié soort vertroue word oor jare opgebou. ’n Nuwe versorger, wat hulle nie ken nie, sal hulle voortaan waarskynlik help,” voeg sy by. Hulle is in hierdie stadium ook nie seker of dieselfde dienste nog gelewer gaan word nie.
Die organisasie se ander groot bekommernis is dat sowat 50 gesinne van vandeesweek af moontlik sonder ’n inkomste gaan wees. “Die tuisversorgers was ook gedurende die grendeltyd uit op die strate. Hulle het hulself en hul gesinne se gesondheid in gevaar geplaas om mense binne hul gemeenskappe te gaan help en met versorging voort te gaan, hetsy wonde skoon te maak en seker te maak TB-pasiënte neem hul medikasie, om net ’n paar te noem. Dit maak seer,” voeg sy by.
Volgens Heinelize Knoesen, uitvoerende hoof van Sinethemba, was die aansoekproses deur organisasies sonder winsoogmerk (NPOs) om in diens van die organisasies die Wes-Kaapse regering van gesondheid se gemeenskapsgebaseerde programme sorg te bied aan plaaslike gemeenskappe, vanjaar ’n eksterne proses en dus oop vir enigiemand om aansoek te doen. “Ons het geen probleem daarmee nie. Wat ons wel ontstel, was die feit dat van die vereistes onder meer behels het dat die aansoeker met die gemeenskap vertroud moet wees en ’n kantoor moet hê wat geografies reg en operasioneel is – vereistes waaraan wel voldoen is, hoewel die kontrak aan organisasies sonder winsbejag buite die streek toegeken is.
Sy voeg by dat Sinethemba steeds voortgaan met hul oorblywende voedingskema, asook hul Happy Hearts- en tuinprogramme, en nuwe projekte is in die pyplyn. Sinethemba het tans vyf kantore – in Malmesbury, Moorreesburg, Abbotsdale, Riebeek-Kasteel en Darling.
Sarie Nell berig Sinethemba se kantore in Abbotsdale, Darling en Riebeek-Kasteel sal steeds beman word. Knoesen sê pasiënte moet egter voortaan hul naaste kliniek vir alle gesondheidsnavrae kontak.
’n Petisie het die afgelope week die ronde gedoen om handtekeninge in te samel ter ondersteuning van die gemeenskapsgesondheidswerkers en die gesondheidsprogram wat reeds die afgelope 18 jaar in die Swartland is, maar ook om seker te maak dat die dienste wat Sinethemba al langer as twee dekades verskaf, kan voortaan.
Die petisie, wat in totaal altesaam 4 000 handtekeninge ingewin het, is Maandag (3 April) tydens ’n vreedsame betoging aan die departement van gesondheid oorhandig.
Volgens terugvoering deur die departement van gesondheid, is die toekenning van kontrakte ’n proses wat reeds gedurende November en Desember 2022 met alle betrokke NPO’s gevolg is. “Dit neem aanvang met ’n ‘external call for proposals’, waar NPO’s hulle sake- en bedryfsplanne vir die volgende kontraktydperk voorsien. Die omvattende gesondheidskomponent van ons distrikskantoor het in hierdie proses alle NPO’s, insluitend Sinethemba, in dié proses bygestaan,” sê Leensie Lötter, kommunikasiebeampte vir die departement.
Sinethemba was egter volgens die beoordelingsproses nie die suksesvolle NPO om dienste te lewer in groot gedeeltes van die Swartland-subdistrik nie, hoewel hy wel vir die Darling-omgewing suksesvol was. Die departement kon nog nie bevestig aan wie die kontrak toegeken is nie.
Die aantal “poste” vir gemeenskapsgesondheidswerkers, beraders en verpleegskoördineerders in die Swartland-subdistrik bly egter dieselfde en personeel kan aansoek doen vir poste by die NPO’s wat wel in die beoordelingsproses suksesvol was. Geen poste gaan verlore nie, maar is toegeken aan suksesvolle NPO’s, het die departement sy versekering gegee.
Die departement het bevestig die bestuur van Sinethemba het aangedui hy gaan appèl teen die toekennings van NPO-kontrakte in die Swartland-subdistrik aanteken en ’n vergadering is vir gistermiddag (Maandag) om 12:00 met die distrik- en subdistrik-besture geskeduleer. . Die uitkoms van dié vergaderings was nie teen druktyd gister bekend nie.





