Shalom Isaacs (16), ‘n gr. 11-leerder aan die Hoërskool Dirkie Uys, het onlangs aan die veeleisende dog immergewilde Kaapstad-fietstoer deelgeneem en skitterend gevaar – en dít nadat sy dokter in September verlede jaar gesê het hy sal dalk nooit weer loop of professioneel kan fietsry nie.
Dié skoknuus het gekom nadat Isaacs op 14 September – drie dae ná sy verjaarsdag – in ‘n ernstige motorongeluk was waarin die bestuurder dood is.
Isaacs het veelvuldige beserings en beenbreuke opgedoen, waaronder ‘n stuk draad van die heining wat hulle getref het, uit sy voorkop verwyder moes word.
Dié kranige fietsryer se linkerdybeen is onder meer gebreek en ‘n kophou het tot ‘n skedelkraak gelei. Hy is twee weke in die Tygerberg-hospitaal behandel, gevolg deur ‘n langdurige herstelproses met ‘n besoek aan ‘n fisioterapeut en ‘n ortopeed.

hospitaal weens sy beserings.
Ná sowat twee maande was Isaacs – sonder enigiemand se medewete – op sy fiets in die straat af. Hoewel hy aan die begin gesukkel het, het dit goed gevoel.
Isaacs het reeds op 12-jarige ouderdom mededingend begin ry. Sy passie vir fietsry kom van Carl Daniels, ‘n inwoner van Moorreesburg, wat in dieselfde straat as sy ma woon. “Ek het hom altyd dopgehou wanneer hy Saterdagoggende vroeg met sy fiets uit is en eers smiddae teruggekeer het,” vertel Isaacs. Sodra hy terug was, het Isaacs hom met vrae gepeper, soos hoe ver hy gery het. Daniels het sy passie raakgesien en besluit om saam met Hendrik Matthews ‘n plan te maak om vir Isaacs ‘n fiets in die hande te kry. “Hulle het ‘n borg gekry en ek het begin ry,” voeg Isaacs dankbaar by. Die mooi uitsigte is vir hom ‘n hoogtepunt wanneer hy ry.
“Ná elke opdraande wag daar altyd ‘n mooier uitsig.” Die Kaapstad-fietstoer was sy heel eerste ren ná die ongeluk. Ghida Visser, ‘n inwoner van Moorreesburg, vertel hoe Isaacs oor haar pad gekom het. Visser het hom gedurende sy herstelproses moed ingepraat, hom na die fisioterapeut geneem en toegesien dat hy weer op ‘n fiets sal klim.
Sy droom om weer aan ‘n ren deel te neem, het realiseer kort nadat hy ‘n berig in Swartland Gazette gesien het waarin die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Ricardo Mackenzie, ‘n groot inisiatief aangekondig het om jeugdeelname aan die fietstoer te bevorder deur 500 gratis inskrywings aan leerders te bied. Visser het ‘n e-pos namens Isaacs geskryf en hom só ‘n plek op die wegspringstreep verseker.
“Hy is ‘n ongelooflike talentvolle seun,” voeg Visser opgewonde by.
Volgens Isaacs was dit ‘n uitstekende ren. “Die gees was daar en almal motiveer mekaar. As jy stop, is daar altyd mense wat jou motiveer om weer op te klim en aan te hou.” Hy is dankbaar hy het geen blywende nagevolge van sy beserings wat sy fietrydrome kan kniehalter nie.
Isaacs het die 42 km aangepak en die ren in 01:36:16 voltooi. Hy was 10de uit 58 deelnemers in sy afdeling. Die volgende ren wat hy graag sal wil ry, is die Darling Brew Extreme (DBX), hoewel hy eers op 25 Maart ‘n operasie aan sy regterwysvinger moet ondergaan nadat ‘n sening in die ongeluk afgesny is. “Ek kan nie my vinger self buig nie, hoewel dit kan buig,” sê hy.
Sy boodskap aan ander wat deur diep waters gaan, kom uit sy grootste liefde vir die sport. “Aan die einde van elke opdraande, wag ‘n mooier uitsig en ‘n mooier pad. Moenie dat die struikelblok wat nou in jou pad is, jou terughou nie.”






You must be logged in to post a comment.