Zaun Miguel Marthinus (13) spog met sy twee silwermedaljes wat hy onlangs by die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap in Potchefstroom in die spies- en diskusgooi verower het. Hy was die naaswenner in albei velditems. Foto:


MONTAGU. – ’n Werklose ma en pa van ’n baie begaafde jong seun hoop en bid dat hulle betyds genoeg geld kan insamel om sy deelname aan die o.13-Boland -Cravenweek, wat van 26 Junie tot 1 Julie in Krugersdorp plaasvind, moontlik te maak.

Jeanne (44) en Monique (36) Marthinus is die trotse ouers van Zaun Miguel Marthinus (13), ’n graad-7 leerder aan die Laerskool Montagu. Dié sportiewe skoolseun is nie net ’n belowende en talentvolle rugbyspeler nie, maar ook ’n kranige veldatleet.

Hy het onlangs aan die Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskap in Potchefstroom deelgeneem, waar hy sy skool en dorp se naam hoog gehou het.

Hy het uitstekend presteer en twee silwermedaljes in die spies- en diskusgooi-veldnommers in die afdeling vir 13-jarige seuns gewen nadat hy in albei veld-items tweede geëindig het.

Volgens sy trotse pa neem sy seun ook aan gewigstoot deel.

Junior, soos pa Jeanne hom noem, doen ook gewigstoot. “Hy het verlede jaar in November aan ’n Boland-ontwikkelingsbyeenkoms in die Paarl deelgeneem, waar hy goud in die gewigstoot-item met ’n afstand van 12,51 meter gewen het.

“By dieselfde byeenkoms het hy ook in spiesgooi en diskusgooi goud verwerf. Sy afstand met die spies was 46,35 meter en die diskus het hy 36,87 meter ver gegooi,” vertel sy pa breëbors.

Hy het in Mei deur ’n skrywe van die Boland-laerskole-rugbyunie verneem sy seun is as toekant-flank in die o.13- Boland-Cravenweekspan opgeneem.

Hoewel hulle as ouers baie bly is oor hul seun se insluiting in die Cravenweekspan, plaas dit groot finansiële druk op hul huishouding, sê Marthinus.

Drie oefenkampe en ’n voorbereidingstoernooi om die spelers vir die rugbyweek gereed te kry, word gehou, en al die spelers wat gekies is, is verplig om dit by te woon.

Ouers, skole of die streek vanwaar die leerder kom, is verantwoordelik vir benodigdhede soos beddegoed, toiletware, oefenklere en mondskerms, lui ’n skrywe van die Boland-laerskole-rugbyunie gedateer 30 Mei 2022.

Dit is ook die ouers, skole of streek se verantwoordelikheid om die spelers by die onderskeie oefenkampe te kry, lui die skrywe.

Voorts word ook in die skrywe gemeld “indien bogenoemde reëls verbreek word, sal ’n speler sy plek in die span verloor”.

By implikasie beteken dit ’n speler wat nie die geld of vereiste benodigdhede kan bybring nie of ’n oefenkamp misloop, sal sy plek in die span kwyt wees.

Behalwe vir die oefenkamp-uitgawes, staar die spelers – en by implikasie dus die ouers – ook bykomende uitgawes vir die komende toernooi, pette-oorhandiging en so meer in die gesig.

Weens die ouers se finansiële omstandighede wend die begaafde Zaun se pa hom nou tot die gemeenskap vir hulp ten einde sy seun se deelname aan die Cravenrugbyweek ’n werklikheid te help maak.

“Ons is verskriklik dankbaar vir die ondersteuning en gebede. Ons waardeer dit.

“Ons kind moet by die Cravenrugbyweek in Krugersdorp wees. Groot onkostes is daaraan verbonde. Die algehele koste beloop R9 000.

“Ek en my vrou is sedert Covid-19 die land getref het, steeds werkloos en het geen inkomste nie.

“Die skool en sekere sakeondernemings het begin om geld vir hom in te samel.

“Ons wil graag ook die breë Langeberg-gemeenskap nader om te vra vir hulp.

“Ek pleit by die rugbyklubs en almal in die gemeenskap om dit vir hierdie jong talent moontlik te maak,” is die verleë pleidooi van ’n trotse vader wat sy seun die geleentheid wil bied om sy talente uit te leef.

Jeanne is van mening dit is dikwels juis ’n gebrek aan geld wat belowende jong talent kortwiek.

Volgens hom praat hy namens baie ander wat in dieselfde bootjie as hy is wanneer hy sê: “Dit kan mos nie wees dat net een van so baie talente wat ons hier op Montagu het, dit maak nie.

“Dit is dikwels as gevolg van ’n tekort aan geld wat veroorsaak dat talentvolle kinders soms geleenthede verbeur en agterweë bly,” reken die mismoedige Marthinus.. Lesers of ander belangstellendes wat wil help, kan Jeanne by 074 791 2479 bel of WhatsApp stuur vir meer besonderhede.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article