’n Betoging het Vrydag 20 Oktober voor die Malmesbury-polisiekantoor in Piketbergweg plaasgevind. Foto: Charlotte Lesch


’n Groep ongelukkige inwoners van Saamstaan en Ilingelethu het Vrydag die strate van Malmesbury ingevaar in reaksie op die vorige Sondagaand (8 Oktober) se gewelddadige gebeure tussen gemeenskapslede van die gebied.

Die geweld volg ná die moord van Devon Dolmag (17), wat glo in ’n rusie met ’n mes doodgesteek is. Nog twee inwoners is dieselfde aand met ’n mes doodgesteek nadat inwoners oproerig geraak het kort nadat die nuus oor die mesaanval op Dolmag versprei het.

Dolmag se aanvaller is in hegtenis geneem, maar niemand is in verband met die dood van die ander twee slagoffers in hegtenis geneem nie, wat inwoners erg onthuts gelaat het.

Die vreedsame optog, wat wel met brandende bande gepaard gegaan het, is van stapel gestuur weens inwoners se misnoeë oor swak dienslewering van die Malmesbury-polisie. Een van die leiers het gedurende Vrydag se betoging reg voor die polisiekantoor in Piketbergweg die groep se griewe oor ’n luidspreker laat hoor. Hulle is onder meer ongelukkig oor die feit dat die polisiekantoor so ver van hulle af is, asook swak dienslewering aan gemeenskappe.

Sers. Henry du Randt, ’n polisiewoordvoerder, sê mense hulle voel onveilig weens beperkte sigbare polisiëring in hul omgewing. “Die polisiekantoor is volgens die gemeenskaplede te ver van Saamstaan en Ilingelethu af,” voeg Du Randt by.

Inwoners kla bendegeweld is aan die toeneem, maar hulle sê die polisie het nie die nodige vaardighede om teen bendes op te tree nie. Hulle sê verder die plaaslike polisie reageer ook nie altyd wanneer ’n klagte aangemeld word nie.

’n Memorandum met hul griewe is aan die polisie oorhandig, waarop 14 dae tyd gegee is om te reageer.

Bestuurslede van die polisie het ontvangs van die memorandum erken en bevestig dat die probleme nou met die nodige betrokke partye bespreek sal word, waarop gereageer sal word soos versoek.

Dolmag se aanvaller het gister (Maandag) in die Malmesbury-landdroshof op ’n aanklag van moord verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article