MONTAGU – Die plaaslike polisie en ander rolspelers het gedurende die pas afgelope Menseregtemaand (Maart) verskeie aktiwiteite aangebied om sosiale kwessies in die gemeenskap die hoof te bied. Die teikengroepe was die jeug sowel as bejaardes.
Konst. Esmarelda (Essie) Philander, die sosialemisdaadvoorkomingsbeampte van die Montagu-polisie, het die VGK kerk se jeug op Menseregtedag, 21 Maart, in die kerksaal oor kindermolestering toegespreek.
Philander het die jongspan bedag gemaak op sekere menslike gedrag wat op moontlike molestering kan dui.
Voorts het sy hulle aangeraai om dadelik met iemand betroubaar te praat indien enigiemand hulle op ’n onbehoorlike manier betas of selfs net op ’n manier wat hulle ongemaklik laat voel, aanraak.
Die plaaslike polisiediens (SAPD) het Donderdag 23 Maart in samewerking met die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) ’n inligtingsessie vir bejaardes in die Kabouterlandsaal in die Ashbury-woonbuurt aangebied.
Selistien Moses, ’n gemeenskapsleier, het die bejaardes vooraf met ’n baie emosionele getuienis bemoedig. Sy het vertel hoe die Here haar deur ’n baie moeilike tyd in haar lewe gedra het.
Daarna het Astrid Kiewiets, die voorsitter van die Montagu-SAPD-kjeuglessenaar, die bejaardes toegesing.
Philander was die hoofspreker by dié geleentheid. Sy het die groep van sowat 40 bejaardes meer vertel oor die Wet op Ouer Persone (Wet 13 van 2006).
Philander het onder andere aan die senior burgers verduidelik hoe dié wet dienslewering deur die polisie aan ouer mense reguleer asook van die regte waarop ouer mense hulle kan beroep soos wat dit in die wet vervat word.
In vraetyd het van die bejaardes verskeie probleme wat hulle soms ondervind, uitgelig.
Lede van die polisie se slagofferbemagtigingsprogram (VEP) het die bejaardes tussendeur van koffie en kolwyntjies bedien.
Rhoda Negus, die voorsitter van die Montagu-gemeenskapspolisiëringsforum, het ’n geskenk namens die forum aan Moses oorhandig as waardering vir haar enorme bydraes aan die gemeenskap. . Menseregtemaand is Saterdag 25 Maart met ’n dag vol pret en plesier by die W.A. Rossouw Primêre skool afgesluit.
Die plaaslike Jeuglessenaar-tak van die polisie het verskeie buitemuurse aktiwiteite vir dié dag gereël. Die doel was hoofsaaklik om die jeug besig en uit die kwaad te hou.
Speletjies soos hardloop met ’n aartappel, bordspeletjies, domino’s en vele meer is gespeel. Dans en gesigverf, wat die kleiner outjies veral baie geniet het, was ook deel van die pret.
Verversings en lekkernye om die hongerpyne te stil, is uitgedeel.
Volgens Kiewiets was die dag ’n groot sukses en sy het alle rolspelers en skenkers, wat die dag moontlik gemaak het, bedank.





