Rugbyondersteuners het Saterdag (29 Julie) op die Rosenhof-sportterrein toegesak om een van die opwindendste Grootuitdaagbekerwedstryde van die Boland-rugbyunie te beleef toe die Moorreesburg- (Samoa) en Darling- rugbyklubs mekaar die stryd aangesê het.
Ná Samoa se klinkende oorwinning oor Abbotsdale verlede Saterdag (22 Julie), het ondersteuners na die Rosenhof-sportterrein gestroom om Rodney Thomas se Samoa’s teen Earl Lewis se Darling-span aan te moedig, maar in die laaste vyf minute gegly toe Brendan Erasmus die bal met ’n oop doellyn voor hom aangeslaan het.
Die vonke het vanuit die staanspoor tot die 80ste minuut tussen die twee buurspanne gespat en die skare is met opwindende rugby getrakteer en nie eens die koue reën en ’n nat en swaar veld kon hul geesdrif demp nie.
Samoa het sy eerste punte op die telbord geplaas toe Wilhelm Oktober die eerste drie van die wedstryd gedruk het met Heinrich Boois, wat die doelskop oorgeklits het. ’n Aanslaan deur Darling – 25 meter van sy doellyn af – het Samoa die geleentheid in ’n vaste skrum gebied om die bal in te gooi. Ruan Van Rooy (binnesenter) het soos ’n warm mes deur sagte botter deur Darling se verdediging vir ’n pragdrie gesny. Boois was in die kol met die doelskop vir ’n voorsprong van 14-0.
Samoa het sy stempel op die wedstryd in die eerste 20 minute geplaas toe hy drie drieë gedruk het om 19-0 voor te loop en dinge vir Darling donker gelyk het. Darling het egter sy staal getoon en teruggeveg – eers met ’n strafdoel deur sy kaptein, Earl Lewis, en toe ’n drie deur John Samuels (slot) wat ’n barshou gespeel het om die agterstand tot 19-10 in die 33ste minuut te vernou.
Swak dissipline deur Samoa het tot Darling se tweede drie deur Jedwin Fortuin van ’n lynstaan af gelei nadat Samoa vir onkantspel gestraf is en dit kommer by Denna Koopman, Samoa se afrigter, gewek het.
Wayne van Wyk het daarna Samoa se bonusdrie gedruk en goeie agterlynspel met ’n suksesvolle doelskop deur Boois het tot die rustydtelling 26-17 gelei.
Harde woorde deur Neil Papier het met rustyd geval en vrugte afgewerp toe Darling in die tweede minuut van die tweede helfte sy derde drie (deur Renfred Adams) gedruk het. Lewis het twee punte bygevoeg, wat die gaping tot 26-24 laat krimp het.
Samoa het egter ’n strafskop in Darling se 22 m-gebied gekry om verder voor te loop, maar het verkies om eerder te skrum as om pale toe te skop. Die skare se misnoeë kon gehoor word dat hulle nie met die besluit saamstem nie.
Swak dissipline en hanteerwerk het Samoa in die steek gelaat toe Patrick Stevens in die 62ste minuut gestraf is omdat hy die bal vasgehou het. Dit het Darling se JP Abrahams die geleentheid gebied om die bal hoog en suiwer deur die pale te jaag.
Met speeltyd verstreke het Samoa ’n laaste geleentheid by ’n lynstaan gekry met Edwayne van Wyk wat deurgebreek en vir Brendan Erasmus aangevoer het. Hy het egter die bal verloor met ’n oop doellyn voor hom, wat gewis die wenpunte sou verseker het.
Samoa kan homself skop dat hy nie sy kanse benut het nie en het oor die laaste vyf minute toe dit saakmaak, gegly, wat daartoe aanleiding gegee het dat Darling die kragmeting naelskraaps met 27-26 gewen het.
Neil Papier en Denna Koopman sal in die oefensessies hierdie week gewis op dissipline en balbeheer konsentreer om die foute reg te stel as hulle eerskomende naweek tuis en weg teen Abbotsdale en Porterville enige sukses wil behaal.
Ander uitslae:
Saterdag 29 Julie 2023 . Swartland:
Abbotsdale 35-34 Saron, Riebeeck United 17-17 Porterville, Never Despairs 55- 0 Villagers Wittewater, Good Hopes 5-15 Wesbank. Weskus:
Velddrif 23-14 Saldanha, Langebaan 14-19 Mamre, Paternoster 12-13 St Helena, Koringberg 15-38 Hopefield.
Wedstryde
. Saterdag 5 Augustus:
Saron vs Wesbank, Darling vs Abbotsdale, Porterville vs Moorreesburg, Villagers WW vs Good Hopes, N Despair vs Riebeeck United





