Die Weskus staar talle uitdagings in die gesig – veral omdat dit ’n streek is waar wetstoepassers alles van die see, plase tot infrastruktuur-projekte van miljoene rande, moet beveilig.
Georganiseerde en samewerkende misdaadbekamping is dus nodig, meen kenners wat Maandag en Dinsdag die Weskus se beraad vir plattelandse veiligheid bygewoon het. Die beraad is deur die departement van gemeenskapsveiligheid en polisietoesig gereël met wetstoepassers van die polisie, die verkeersdepartement en plaaslike munisipaliteite wat die geleentheid bygewoon het.
“Ons moet georganiseerd raak en saamwerk, want dit is presies wat misdadigers doen. Skelms werk saam en is georganiseerd in hul misdaad, en ’n georganiseerde aksie is die enigste manier om dit hok te slaan,” het Uys van der Westhuizen, ’n veiligheidskoördineerder van die Swartland-munisipaliteit, gesê.
Hy het bygevoeg die enigste mense wat by burokrasie en rompslomp tussen verskillende departemente en organisasies baat, is die misdadigers.
Volgens André Truter, die uitvoerende burgemeester van Saldanhabaai, is die tyd vir praatjies verby en is dit nou tyd om daadwerklik teen misdadigers op te tree. “Dit is ’n moeilike saak, maar die skakel tussen die munisipaliteit en die polisie is ontsettend belangrik. Wetstoepassers se mandaat is om verordeninge toe te pas, nie die strafproseswet nie, maar dit is hoekom daardie skakel met die polisie so belangrik is,” meen Truter.
Hy maan ook dit is belangrik vir inwoners om nie net agteroor te sit en te wag vir die regering om die probleem op te los nie, maar ook die hand in eie te boesem te steek.
Dít is ’n siening wat die provinsiale minister Reagan Allen deel.
“Gee terug. Wees ’n aktiewe lid van jou gemeenskap, hetsy dit nou vir jou buurtwag of as lid van jou gemeenskapspolisiëringsforum is. Dalk is jy ’n mentor vir ander of jy sluit by ’n nieregeringsorganisasie aan om te help, maar wees aktief,” sê Allen.
Die minister sê hy weet inwoners kan dalk mismoedig raak met berade en sessies, maar hy meen dié beraad is die beginpunt om programme en ingrypings te skep wat tot misdaadbekamping sal lei.
“Ek besef inwoners raak gefrustreerd – ek ook, want ons wil vinnige resultate hê, veral weens die feit dat 994 mense die afgelope kwartaal in die provinsie vermoor is. Die Weskus sal egter sien hier is programme wat kom en ons hier – die plaaslike gemeenskaps-polisiëringsforum, raadslede en buurtwagte – neem die inligting terug na die gemeenskap, maar ons het nog baie werk om te doen,” erken hy.
Allen sê ’n manier om te verseker wetstoepassers, staatsentiteite en Jan en alleman werk goed saam, is ’n bevelsentrum waar ’n oorhoofse prentjie van ’n streek verkry kan word. “Ons het sukses met een sentrale sentrum in ander distrikte gesien – ’n plek waar veiligheidstrukture en rolspelers almal op een plek is. So sien ons dat beter samewerking tot inhegtenisnemings lei,” het hy verduidelik.
Die eerste veiligheidsberaad is verlede maand in die Overberg gehou.
Die minister en sy span se volgende beraad sal op 17 en 18 Oktober in die Tuinroete plaasvind.




