MONTAGU – Ná sy sukkelende begin twee weke gelede teen Darling het die verdedigende Boland-klubkampioen, Saldanhabaai, Saterdag (29 Oktober) tot sy reg gekom toe hy Montagu-klub, die naaswenner van die Breë-Langebergstreek, oortuigend 46-32 geklop het.
Rustyd was die vissermanne reeds 24-8 voor.
Dié tweederondewedstryd van Boland se Top-12-kompetisie is op die King Edward-sportterein in Montagu beslis.
Dit was ’n opwindende stryd waartydens al twee spanne die groot skare toeskouers op pragtige hardlooprugby getrakteer het. Nie minder nie as dertien drieë is in die wedstryd gedruk.
Saldanha het ’n indrukwekkende agt keer agter Montagu se doellyn gaan kuier, terwyl die tuisspan die besoekers se doellyn vyf keer oorgesteek het.
Saldanha het vroeg in die wedstryd reeds gewys hy het met net een doel voor oë Montagu toe gekom, en dit is om die Top-12-kragmeting te wen.
Ná sowat twintig minute het hy ná twee drieë, waarvan een verdoel is, reeds 12-0 voorgeloop.
Kort hierna is hy egter in sy eie kwartgebied vir ’n oortreding gestraf, waarna Montagu ’n vinnige tikskoppie geneem en sy sterk binnesenter, wat ’n baie goeie wedstryd gehad het, weggestuur het om af te rond. Die doelskop was ongelukkig teen die linker regoppaal vas (telling 12-5 in Saldanha se guns).
Saldanha het in die 33ste minuut van sy eie doellyn af aangeval, maar is kort daarna by ’n afbreekpunt gestraf. Montagu het die strafdoel tussen die pale deur geskop en sy agterstand na 12-8 verklein.
Voordat die spanne ’n welkome blaaskans geneem het, het Saldanha egter sy voorsprong verder vergroot met nog twee drieë, waarvan een verdoel is om die rustyd-telling op 24-8 te staan te bring.
Die besoekers wat in ’n vernietigende bui was, het kort ná rustyd nog ’n onverdoelde drie aangeteken en die telling na 29-8 geneem.
Montagu, wat nou al bekend is vir sy durf en veggees, het besef Saldanha gaan met die wedstryd weghol as hy nie vinnig iets aan die saak gaan doen nie. Minute later het hy hard teruggeslaan met twee drieë waarvan een verdoel is om die telling 29-20 te maak. Hy was toe weer binne bereik van die vissermanne.
Maar Saldanha was soos ’n geoliede masjien waarvan die ratte glad en teen ’n hoë versnelling gewerk het. Hy het die bal vinnig en doeltreffend tussen voor en agterspelers versprei en Montagu het gesukkel om al die gate toe te stop.
Na nog twee drieë – een is verdoel – was die telling skielik 41-20 vir Saldanha. Hoewel dit toe gelyk het of Montagu se stoom begin opraak, het hy steeds moedig terugbaklei en weer ’n draai agter Saldanha se doellyn gemaak om die telling met ’n onverdoelde drie na 41-25 te neem.
Die skrif was egter aan die muur toe Saldanha weer terugkap met ’n drie en ’n mens sou dink, met die uurglas wat bykans dolleeg was, sou Montagu se geesdrif heeltemal uit wees. Toe nie.
Die blou truie het die laaste sê in die wedstryd gehad toe hy met ’n verdoelde drie die eindtelling op 46-32 te staan gebring het.
Sonder om enige glans van Saldanha se skitterende vertoning weg te neem, kan met veiligheid gesê word Montagu het hom tot ’n mate in die voet geskiet met al die hanteerfoute wat belowende bewegings laat skipbreuk ly het.
Vir die tuisspan het sy kaptein, Cleve Malgas (heelagter), Tain-Randall Booysen (flank), Mac-John Daniëls (binnesenter) en Ryan George (losskakel) ’n barshou gespeel.
Saldanha se agttal het as ’n eenheid uitgestaan, met die skitterende kantman, Gareth Gertse, wat die pap lekker dik aangemaak het. Hy was ook tereg as die speler van die wedstryd aangewys.
Voorts was die voorspelers se gladde interaksie met die agterlyn deurgaans heel indrukwekkend.





