Die Saldanha-rugbyklub het Saterdag sy beste vir laaste gehou en sy status as die Boland-kampioen suksesvol verdedig toe hy die Ceres-span se sap in die eindstryd getap het.
Saldanha het die eindstryd, wat lank onthou sal word, met 21-15 gewen nadat die wenner met skoppe bepaal moes word. Die wedstryd, wat ná 80 minute 9-9 gelykop geëindig het, was na ekstra tyd (20 min) steeds gelyk en die kampioen het koelkop gebly en die skoppers het in die span se tyd van nood nie teleurgestel nie.
Die kampioen het die titel egter weens swak dissipline byna op ’n skinkbord aan Bella Vista oorhandig. Drie geelkaarte in kritieke tye van die wedstryd het Saldanha geen gunste gedoen nie.
Die Weskussers was rustyd 6-3 voor. Dié span se karakter en veggees was iets wat die skare se oog gevang het en hulle was gewis die hongerste van die twee spanne.
Die Saldanha-losskakel, Jacquin Jansen, het vier strafskoppe gemis, wat die kampioen buite bereik van Bella kon plaas. Jansen het egter toe dit saak maak ’n 60-m-strafskop oorgeklits en sy span 9-6 voor geplaas. Saldanha se Ronaldo Brown het met agt minute se speeltyd oor Saldanha se greep op die trofee verslap toe hy met ’n geelkaart van die veld gejaag is.
Die verdedigende kampioen het egter vasgebyt en koelkop gebly. Bella het op sy beurt geduldig gewag op ’n geleentheid en met speeltyd verstreke het hy ’n strafskop binne trefafstand afgedwing om sake gelyk te maak. Met 10 minute ekstra tyd aan elke kant het die twee spanne mekaar tot die uiterste beproef, maar nie een het bes gegee nie.
Saldanha se kanse het egter in die vierde minuut van ekstra tyd ’n massiewe terugslag beleef toe die span se kaptein, Cheswin Williams, ook met ’n geelkaart van die veld af is. Die kampioen het egter Bella Vista se aanslae op die titel met rotsvaste verdediging afgeweer en Saldanha kon weer asemhaal nadat die eindfluitjie geblaas het met die telling steeds 9-9.
Saldanha se Monray Jacobs het die eerste skop oorgeklits, waarna Bella Vista weer sake gelykgemaak het. Daarna het Brent Maneul ook min moeite met sy poging gehad, maar Bella Vista het sake weer gelyk gemaak.
Girshton Gurah en Jayden Cloete het daarna hul skoppe oorgeklits terwyl Bella Vista onder die druk geswig en sy twee skoppe pale toe gemis het, waarna Saldanha weer as die kampioen gekroon is.




