Baie boere skop vanjaar se kanolaseisoen met groot frustrasie af nadat hulle of te min saad het weens bestellings wat gesny is óf nie die gewenste kultivar ontvang het nie óf nou terughousaad moet plant. Foto: Argief

Credit: SYSTEM

Saaityd vir kanolaprodusente in die Swartland het aangebreek.

Baie boere begin vanjaar se seisoen egter met groot frustrasie nadat hulle óf te min saad het weens bestellings wat gesny is, nie die gewenste kultivar ontvang het nie óf noodgedwonge terughousaad moet plant.

’n Bom het in Desember 2022 gebars nadat die grootste verskaffer van kanolasaad die nuus gebreek het dat 93% van sy gewildste kultivars weens kontaminasie nie die land mag binnekom nie. Dit was juis nadat vermeerderingsaanplantings in Kanada gedoen is om risiko te beperk. “Dis Desember 2022 en 50% van die ongeveer 300 ton saad vir die 2023-aanplantings gaan nie beskikbaar wees nie,” het Andries Theron van die Proteïen-navorsingstigting (PNS) destyds gesê.

Vir PNS is die huidige situasie rakende kanolasaad regtig ontstellend en kommerwekkend en word die situasie op alle vlakke bespreek om so ’n herhaling te voorkom,” sê Theron.

Theron verduidelik weens die beskikbaarheid van gewilde kanola-kultivars wat die afgelope drie seisoene reeds nie na wense was nie, het die PNS en GSA se kanolawerkgroep reeds vroeg in 2022 in gesprek getree met die saadmaatskappye om te verseker dat genoegsame kultivars wat in aanvraag is, beskikbaar sal wees.

Volgens Theron het die grootste saadverskaffer weens die saadtekorte wat hy tydens die 2022-seisoen ervaar het, sy saadvermeerdering in Kanada aangeplant, juis om die risiko van klimaat en tyd wanneer dit vanuit Australië beskikbaar is, te vermy. “Al die ander saadverskaffers het ons die versekering gegee genoegsame saad van die regte kultivars sal tydig beskikbaar wees.”

Theron gee verder agtergrond en verduidelik bestellings vir saad vir die 2023-aanplantings in Suid-Afrika moes reeds voor die 2022-seisoen se aanplantings in Australië deur verskaffers gedoen word. “Dit wil sê bestellings moes voor einde Maart 2022 reeds in Australië wees. Hierdie bestellings word gegrond op die inligting ontvang vanaf grondvlak-verteenwoordigers en verspreiders van die saad asook ’n visie van die maatskappy oor toekomstige uitbreidings in die kanolabedryf.”

Gesprekke met al die verskaffers het onmiddellik gevolg. “Ek kan die versekering gee dat almal hul bes probeer het om hierdie perfect storm te help bestuur, hoewel nie met groot sukses nie. Om die situasie te vererger, het nog een van ons verskaffers in Januarie 2023 aangedui dat sy saadbestelling op ’n gewilde kultivar ook baie gesny is. Dit laat ons met die werklikheid wat ons as produsente tans met betrekking tot saadbestelling en kultivars ervaar,” brei Theron uit.

Baie van die kultivars van alle maatskappye is tans of op vliegtuie of bote, waarvan sommige tans in Kaapstad se hawe besig is om af te laai, en ander saad is nog op pad. “Op hierdie tydstip hoop, bid en vertrou ons hierdie saad sal betyds op plase wees.”

Hy sê die Suid-Kaap is reeds volstoom aan die plant, met baie ongelukkige boere. “Bestellings van gewilde kultivars is gesny weens tekorte en gewilde kultivars wat net nie beskikbaar is nie. Hoewel die landbou-ondernemings in daardie gebied werklik uit hul pad gaan om te help, is frustrasies hoog en terughousaad sal geplant moet word.”V Na bl. 2.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article