Moet mense bekommerd wees oor die nuwe golwe van Omicron se BA.5-subvariant in die noordelike halfrond en Latyns-Amerika?
Volgens dr. Christopher J.L. Murray, ’n navorser van Washington en die direkteur van die Instituut vir gesondheidsmetrieke en -evaluering, dui navorsing daarop dat die nuutste golwe van uitbreking ongeveer vier tot ses weke duur.
Navorsing toon dat die styging in voorkoms van die nuutste variant toegeskryf kan word aan die feit dat mense nou baie meer reis, minder masker dra, asook die aansteeklikheid van BA.5.
Die goeie nuus is Suid-Afrika is volgens alle aanduidings reeds deur die golf van die BA.5-subvariant van die Omicron-virus en inderwaarheid een van die eerste lande wat reeds daardeur is. Suid-Afrika het tussen April en Junie vanjaar ’n gekombineerde BA.4- (nog ’n Omicron-subvariant) en BA.5-golf ervaar, waar gevalle vinniger toegeneem het as die vorige Omicron-variant-golf.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie se mees onlangse verslag is dié variant verantwoordelik vir 52% van die gevalle wat aan die einde van Junie aangeteken is. In die Verenigde State word beraam dat dit sowat 78% van infeksies veroorsaak, lui die Amerikaanse Centres for Disease Control (CDC) se jongste verslag.
“Navorsing wys verder dat mense wat aanvanklik weens die Omicron-variant siek geword het, ook met die BA.5-subvariant kan aansteek – geen twyfel daaroor nie,” sê Gregory Poland, ’n viroloog en entstofnavorser by die Mayo Clinic in Rochester, Minnesota.
Navorsing, deur wetenskaplikes van King’s College in Londen, wat langdurig gedoen is sedert die pandemie uitgebreek het en in PLOS Medicine gepubliseer is, wys “besondere waaksaamheid” onder pasiënte en dokters is nodig in die tydperk nadat hulle Covid-19 opgedoen het, omdat die pasiënt se risiko vir hartsiektes en diabetes dan vir ’n rukkie kan verhoog.
Prof. Ajay Shah, die British hartstigting se voorsitter van kardiologie en uitvoerende dekaan van die fakulteit lewenswetenskappe en geneeskunde, sê bevindinge “sal uiters waardevol wees vir dokters wat die miljoene mense bestuur wat Covid gehad het”.
“Dit is duidelik dat besondere waaksaamheid vir ten minste die eerste drie maande ná Covid-19 vereis word,” het hy bygevoeg.
Hoewel mense wat twee keer Covid kry, as ’n reël nie weer so siek word nie, geld dit nie noodwendig almal nie. Die rede is omdat mense deur verskillende variante van die virus kan aangesteek word en verskillende simptome kan hê.
Dit blyk dus hoewel die BA.5-virus wel tans tot meer gevalle van hospitalisasie in die buiteland lei, ons aan die suidelikste punt van Afrika nie nou té bekommerd daaroor hoef te wees nie.



