Brumelda Bell en Audrey Jantjies waar hulle onlangs die musiekvideo vir Mombakkie verfilm het.


’n Plaaslike rymkletser van Montagu, Brümelda Bell is deur die boodskap van ’n kortverhaal geïnspireer om ’n rymklets-liedjie te skryf om die boodskap nog meer toeganklik te maak.

Die kortverhaal is deur Audrey Jantjies geskryf en handel oor al die uitdagings waardeur die LGBTQIA+- gemeenskap gaan – en hoe die hoofkarakter vermoor word om sy gay is.

“Ek en Audrey het eendag gesels en toe stel sy voor ek moet haar kortverhaal, Mombakkie, lees. Ek het die storie gelees en besef dis ’n boodskap wat deur meer mense gehoor moet word. Ek het toe besluit om ’n liedjie daaroor te skryf.”

Bell is self deel van die LGBTQIA+-gemeenskap en het self in die verlede deur moeilike emosies gewerk.

“Ek dink daar is baie gay mense wat deur moeilike situasies gaan, en dieselfde dinge wat in die kortverhaal gebeur, kan met hulle ook gebeur,” verduidelik Bell.

Sy het ’n maand geneem om die liedjie te skryf en het saam met verskeie plaaslike kunstenaars daaraan gewerk. Die 24-jarige het in 2015 begin rymklets en is juis deur plaaslike rymkletsers geïnspireer om daarmee te begin.

“Ek het van kleins af altyd na die plaaslike rappers geluister. Hulle het my laat voel dat ek dit self ook kan doen. Ek rap meestal in Afrikaans, maar so nou en dan sal ek ’n bietjie Engels doen, dan rap ek ook baie in Khoekhoe om hulde aan hulle te bring.”

Die inspirasie vir haar liedjies kom van die dinge wat sy daagliks in die gemeenskap van Montagu teëkom en ervaar.

Jantjies meen sy is baie trots op Bell en die liedjie wat deur haar kortverhaal geïnspireer is.

“Sy het ’n week nadat ek haar gevra het om Mombakkie te lees, teruggekom en gevra of dit oukei sal wees om die verhaal in ’n liedjie om te skep. Ek is baie trots op haar. Sy het die ekstra myl vir hierdie liedjie geloop. Dis maar min wat ’n mens deesdae sulke toegewyde jeugdiges teekom.

“Dieselfde geld die ander kunstenaars wat haar met hierdie liedjie gehelp het – hulle het almal om haar saamgespan om dit ’n werklikheid te maak,” verduidelik Jantjies.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article