’n Passie vir perde, veerkragtigheid en ’n tikkie spoed is maar net van die elemente wat die Yzerfonteiner Daniel Basson (19), beter bekend as Niel, eersdaags na Nieu-Seeland stuur om Suid-Afrika by die Mounted Games-vereniging se 2024- Nations Team-kampioenskap te gaan verteenwoordig.
Die aksiebelaaide presisiesport van die perdewêreld val so reg in Niel se kraal nadat sy pad met die intuitiewe diere reeds as peuter begin het. Hy was maar vier jaar oud toe hy vir die eerste keer by die merrie Poppie se vul op die plaas Swartbergvlei gaan sit het. Volgens sy ma, Sunette Basson, was dit ook hier waar hy as vierjarige vir die eerste keer op ’n perd se rug gesit het. Dit was neusie verby en perdrylesse het kort daarna op die ouderdom van vyf jaar begin toe hy deur Lana de Villiers afgerig is.
Sy liefde vir perde is ook danksy sy pa, Johan, aangewakker, wat destyds in die berede afdeling van die weermag was en op sy beurt ook graag aan gimkana-kompetisies deelgeneem het.
Niel, ’n oudleerder van Darling Kollege en die Hoërskool Swartland, waar hy gr. 8 en gr. 9 gedurende die Covid-19-padnemie voltooi het, se perdrylesse het sedertdien nooit gestop nie. Hy het tot 2022 onder die bekwame leiding van De Villiers aanhou ry terwyl hy sy hoërskoolloopbaan deur tuisonderrig by Teneo voltooi het.
Niel was nege jaar oud toe hy aan sy eerste gimkana-kompetisie in Darling deelgeneem het. Drie jaar later het hy met die louere weggestap as Victor Ludorum.
Na jare se oefening as ruiter het hy in 2019 aan die Western Mounted Games-vereniging se kampioenskap begin deelneem, wat ’n meer gevorderde weergawe van die sport is. Niel het in dié tyd ook aan die nasionale kampioenskap in Parys (Vrystaat) deelgeneem en sy Suid-Afrikaanse Perdesportfederasie-kleure in 2022 ontvang, waar hy op vlak 3 deelgeneem het. Hy het dieselfde jaar nog na vlak vier gevorder en is weer gekies om die SAPF-span by die Western Mounted Games te gaan verteenwoordig. Hy is verlede jaar aan die English Western Mounted Games bekendgestel, waar hy onder leiding van sy ervare spanmaat Joshua Menhinick behoorlik in perdesport begin uitblink het. Niel is aan die einde van verlede jaar vir Suid-Afrika se B-span gekies en het aan die 2023- Mounted Games-vereniging se Nations Team-kampioenskap deelgeneem.
Sy vernuf het hom ’n plek in die SA span verseker, wat vroeër vanjaar aan die Royal Welsh- internasionale kampioenskap in Wallis, Engeland, plaasgevind het.
En nou is Niel sterk op pad na Nieu-Seeland. Verskillende lande se spanne van vier tot vyf ruiters sal weer teen mekaar te staan kom. Volgens sy ma vereis die sport nie noodwendig altyd spoed nie, maar vaardighede en tegniek vir die ruiters om die spel goed te kan speel en foute vinnig reg te stel.
Niel oefen een keer per week saam met die res van sy spanlede (wat uit vyf ruiters bestaan) ter voorbereiding van die kampioenskap in Oktober.
Volgens Sunette kry ruiters nie finansiële ondersteuning op nasionale vlak nie en erkenning vind meestal op sosialemediaplatforms plaas. Hoewel die Bassons besig is met geldinsameling en al ’n paar skenkings ontvang het, is hulle nog nie by hul doelwit nie.
Die span vertrek op 8 Oktober om hul land te gaan verteenwoordig.
Vir meer inligting oor die sport en om uit te vind hoe ’n bydrae gemaak kan word, stuur e-pos na samgasecretary@gmail.com.





