Een van Town se manne probeer sy pad na die doellyn oopbeur. Foto: Tamsyn Jantjies


Die afgelope Saterdag het alle rugbypaaie om verskeie redes na Bolandpark in Worcester gelei.

Om deur te dring na die Top-12-uitspeelwedstryde moes die besoekers, Robertson Town, vir Worcester Villagers klop. Boonop was dit Villa se laaste wedstryd van die seisoen, en tuis, wat beteken het Villa wou ná ’n taamlik wisselvallige seisoen sy honderde lojale ondersteuners op gepaste wyse bedank.

Die aanloop tot die wedstryd het op ’n sombere noot begin toe honderde spelers, oudspelers, ondersteuners, bestuurslede, afrigters en selfs spelers van Robertson ’n erewag gevorm het om hulde te bring aan een van Villa se mees gerespekteerde spelers, André (Gaffie) du Toit, wat ná meer as twee dekades van alles gee vir Villa, besluit het om finaal sy stewels op te hang.

Gaffie was vir jare kaptein van Villa en was ook bevoorreg om met mense van die kaliber van Deon Davids, die huidige voorspeler-afrigter van die Springbokke, Sammy Horne, Pat Marran, Steven Nkoko en ander groot geeste saam in een span vir Villa te speel. Hy roep nou finaal halt nadat hy 23 jaar groot opofferings moes maak om vir Villa te speel omdat hy eers van Grabouw af en later uit die Paarl moes ry om oefeninge getrou by te woon en wedstryde te speel.

Die wedstryd self het teen ’n geweldige tempo afgeskop met Villa wat van meet af aan die skroewe lekker styf aangedraai het. Villa is sommer in die eerste minuut ná geweldige druk met ’n strafskop beloon, en sy losskakel, Austin Hendricks, het met sy eerste skop pale toe geslaag.

Robertson het egter hard teruggeslaan toe sy buitesenter, Rune Lucas, ’n bal in die doelgebied toeval nadat Collin Willemse (losskakel) ’n perfekte rolskoppie afgestuur het. Die besoekers het danksy Willemse se geslaagde doelskop 7-3 voorgeloop.

Villa het weer die voortou geneem toe sy skrumskakel, Roland Daniels, skerp steelkant-om gebreek en gaan druk het. Hendricks het verdoel. Robertson het egter weer sy neus voor gekry toe Willemse met twee strafskoppe kort ná mekaar sukses behaal het.

Granville (Zeke) Jansen, die kaptein en binnesenter, het hierna met brute krag gedruk nadat hy in die proses verskeie Robertson-spelers met krag uit die pad gestoomroller het.

Nadat Hendricks verdoel het, het Villa 17-13 voorgeloop.

Kort hierna het Jansen se sentermaat, Jennovil April, skerp gebreek, maar toe hy enkele meters van die doellyn platgetrek is, was die heelagter, Damian Hopley, by om af te rond. Hendricks se doelskop was egter skrams regs verby, maar Willemse het kort voor rustyd met sy derde strafskop geslaag om die telling op 22-16 te staan te bring.

Kort ná die begin van die tweede helfte het Villa weer ’n vyfpunter aangeteken toe sy vaskopstut, Serge Uys, met brute krag oorgebars het. Robertson het egter nie bes gegee nie en is met ’n sewepunter beloon toe die slot Jermainium Arendse gedruk en Willemse verdoel het om die agterstand te krimp. April het egter die voorsprong gerek toe hy skitterend breek en onder die pale gaan druk het, waarna Hendricks verdoel het.

Die plaasvervanger-haker Andrew Williams het vir Robertson gedruk en met Willemse se geslaagde doelskop, was die agterstand 34-30. Zeke Jansen het egter die Robertsonners se lot verseël toe hy onder die pale oorduik, en om op gepaste wyse vir Du Toit totsiens te sê, word die laaste skop van die dag aan hom toevertrou, wat hy boonop met gemak oorklits vir sy span se 41-30-oorwinning oor sy aartsvyande, Robertson Town.. In die hoofvoorwedstryd was Villa se naasbestes gelykop met 10 elk teen Town. Hy is egter as streekswenners gekroon. In die eerste wedstryd van die dag het Villa se derde span sy eweknie van Robertson 22-17 geklop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article