Gemeenskapslede van Robertson het verlede week voor die hof betoog vir die vrylating van ’n bekende rugbyspeler wat van geslagsgebaseerde geweld (GBV) aangekla word.
Die rugbyspeler het na bewering sy vriendin in Januarie erg aangerand.
Volgens ’n woordvoerder vir die Robertson-polisie het die voorval op Saterdag 28 Januarie gebeur.
“Die klaagster was ná die voorval vir vier dae in die hospitaal. Al twee haar oë was blou en sy het ook blou kolle op haar hande gehad. Haar gesig was erg geswel. Die dokter het gedink haar skedel is gekraak, maar toe die swelling sak, het hulle gesien dit was nie die geval nie en het haar verder gemonitor,” verduidelik die woordvoerder.
Die rugbyspeler is sedert die oorval in hegtenis geneem en word aangehou.
Met sy verskyning vir ’n borgtogaansoek verlede week het talle mense met plakkate buite die hof gestaan en gevra hy moet vrygelaat word en op sy grondwetlike reg om gehoor te word, gewys.
’n Gemeenskapsaktivis het aan Gazette verduidelik dat die klaagster in die saak, wat ook die ma van een van die man se kinders is, die saak teruggetrek het. Volgens die Robertson-polisie is die saak egter nie teruggetrek nie.
Die aktivis verduidelik verder dat GBV nie net die dinge is wat met vroue en kinders gebeur nie, maar ook wat aan mans gedoen word.
“Ek praat nie wat hy aan daardie vrou gedoen het goed nie, maar wat het sy gedoen om hom so ver te dryf dat hy so iets sou doen? Ek ken hom vandat hy ’n baba is en hy was nog nooit die gewelddadige soort nie.
“Sy grondwetlike regte moet ook in ag geneem word deurdat hy die geleentheid gegee word om sy kant van die wat gebeur het, te vertel,” meen die gemeenskapsaktivis.
Die saak is uitgestel tot 27 en 28 Maart vir ’n verdere borgtogaansoek.
Volgens kol. Russell Koeries gaan die staat borg teenstaan.
“Weens die erns van die saak gaan ons borg teenstaan. Ons gee deeglike aandag aan GBV-sake.”




