Die twee rugbyklubs van Wesbank het die toeskouers Saterdag getrakteer met ’n fees van drieë wat hulle vir ’n wyle laat vergeet het van hul probleme in die gemeenskap. Wesbank het as wenners uit die stryd getree met die eindtelling 43-38.
Met ’n fees van 12 drieë deur die twee klubs het Never Despair eerste oor die doellyn geduik en was Wesbank in die eerste helfte die hele tyd onder druk. Never Despair het ná twee onderskepdrieë in die eerste helfte met ’n gesonde 24-10 voorgeloop.
Ná rustyd het Wesbank die toeskouers met goeie rugby op hul voete gehad en drie drieë in ses minute gaan druk, wat Never Despair se ondersteuners stilgemaak het. Never Despair was nie in wanhoop nie en het probeer bybly deur self nog twee drieë te gaan druk, maar kon nie keer toe Wesbank aan die hardloop geraak het nie, en ná nog drie drieë deur Wesbank was die telling te groot vir Never Despair om in te haal.
Die atmosfeer en uitbundigheid ná die wedstryd tussen dié twee spanne se toeskouers en spelers was iets om te aanskou, en rugby was in ’n verenigde gemeenskap die eintlike wenner.
Die Wesbank-rugbyklub is ná die wedstryd op sosiale media spottenderwys geloof dat hy met sy oorwinning die beurtkrag opgeskort het.





