Juandré Joseph, die heelagter van Robertson Town, hardloop sterk met die bal. Joseph, wat een van die uitblinkers was, het sy span se bonuspuntdrie gedruk. Op die agtergrond lê ’n Protea-speler wat Joseph probeer stuit het. Robertson het die Grootuitdaagbeker-kragmeting teen Protea van De Doorns met 41-31 op die Van Zylstraat-sportterrein gewen.Foto: Norman Evertson


Ná ’n skitterende wegspring tydens sy Grootuitdaagbeker-kragmeting met Protea van De Doorns moes Robertson Town tot aan die einde van die wedstryd hard swoeg om die wa deur die drif te trek.

Wat aanvanklik na ’n wegholsege vir die tuisspan gelyk het – op een tydstip was die telling 33-7 vir Robertson – het uiteindelik ’n gekners van tande afgegee toe die besoekers vlamgevat en begin terugveg het.

Robertson was indrukwekkend in die eerste helfte, maar het ná rustyd ’n insinking beleef en moes behoorlik bontstaan om ’n begeesterde Protea-span te probeer hokslaan.

In die eerste veertig minute was Robertson heeltemal in beheer van die wedstryd en het die drieë ingeryg. Hy het vyf drieë in dié tyd aangeteken. Met die vierde drie was sy bonuspunt (vir vier of meer drieë) veilig in die sakkie.

Leighton Swarts, Jenno April (twee), Duan Bredenkamp en Juandré Joseph was die spelers wat almal in daardie stadium agter Protea se doellyn gaan kuier het. Collin Willemse (losskakel) het vier van die vyfpunters verdoel.

Hierteenoor het die besoekers ondanks ’n moeilike begin self twee verdoelde drieë in die eerste helfte behaal.

Terence Ludick (linkervleuel) en Bradley Konstabel (vaskopstut) het vir die besoekers gaan druk, terwyl Jonathan Jordaan (regtervleuel) al twee verdoel het.

Toe die welkome blaaskans uiteindelik aanbreek, was Robertson gemaklik met 33-14 voor.

Nadat die spanne kante geruil het, was dit egter ’n ander Protea-span wat die speelveld betree het. Die besoekers het toe met groot passie en intensiteit gespeel.

Dit was veral Protea se veggees ná die rusperiode wat beïndruk het. Hy het met mening teruggeveg en die momentum het na sy kant geswaai.

Protea het mooi in die wedstryd teruggekom en op een tydstip was die telling 33-26 ná drieë deur Tyron Snygans (slot) en Ishlen Bothman (flank). Die tuisspan was egter steeds voor.

Robertson het weliswaar hierna ’n sesde drie (deur Jumaniane Arendse) gedruk, maar Protea het die septer in die tweede helfte geswaai.

Protea het met oorgawe aangeval en Phillip Willemse (plaasvervanger) het sy span se vyfde drie van die wedstryd gaan druk, wat die telling op 38-31 te staan gebring het.

Protea het tydens sy terugvegpoging in die tweede helfte drie drieë teenoor Robertson se een aangeteken.

Robertson was steeds sewe punte voor, maar het besef Protea is besig om hom in te haal.

Toe Robertson dus weer `n strafskop binne trefafstand kry, is Willemse opdrag gegee om pale toe te skop.

Willemse het met die strafdoel geslaag en sy span se voorsprong effe vergroot.

Steeds het Protea geweier om boedel oor te gee en aangehou terugveg.

Trouens, net voordat die eindfluitjie geblaas het, was Protea weer sterk op die aanval op die tuisspan se doellyn, maar ongelukkig vir hom was speeltyd sekondes later verstreke.

Robertson se uitstekende spel en groot voorsprong wat hy in die eerste skof van die wedstryd opgebou het, was dus deurslaggewend. Dit het hom in staat gestel om die kragmeting uiteindelik met 41-31 in sy guns te beklink.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article