Villagers Montagu en Robertson Town was die afgelope Saterdag (26 Augustus) tydens hul Grootuitdaagbekerliga-kragmeting in `n hewige fisieke stryd op die King Edward-sportveld gewikkel.
Die een het egter nie vir die ander teruggedeins nie.
Die atmosfeer was elektries en die vonke het selfs voor die aanvang van die wedstryd al gespat.
Tydens die gebruiklike identifikasie-parade, waar die spanne gewoonlik voor die afskop in twee rye teenoor mekaar staan, het van die spelers mekaar skielik aan die truie beetgekry.
’n Ruk-en-plukkery het ontstaan, maar die opstootjie was niks meer as ’n relletjie wat gou verby was nie. Alles was binne sekondes oor en niemand is tydens dié relletjie beseer nie.
Robertson was oorgehaal om die bordjies op die King Edward-veld te verhang aangesien Villagers hom in die eerste ronde op die Van Zylstraat-stadion ’n loesing gegee het.
Die besoekers het goed begin en die tuisspan van meet af aan met fisieke inklimspel onder ontsaglike druk geplaas.
Robertson het ná vier drieë in die eerste helfte ’n stewige greep op die wedstryd gehad.
Earl Snyman (binnesenter), Jovelian de Koker (buitesenter) en Curtley Timm (nr. 5-slot; twee keer) het vir die besoekers gaan druk. Collin Willemse (losskakel) het almal, behalwe De Koker se drie, verdoel.
In dié tyd kon Villagers nie hond haaraf maak nie. Te veel ongedwonge foute is begaan en daarby was Robertson se verdediging in daardie stadium rotsvas.
Curtley Deelman (skrumskakel) kon darem die tuisspan voor rustyd met ’n susksesvolle strafdoel op die telbord kry.
Toe rustyd aanbreek, was Robertson baie gemaklik met 26-3 voor.
Nadat die spanne kante geruil het, het Villagers met ’n sterker aanslag vorendag gekom, terwyl dit aan die anderkant gelyk het asof die besoekers ’n bietjie stoom verloor het.
Robertson se verdediging was skielik nie meer so gedug soos in die eerste helfte nie en boonop het Villagers die besoekers ’n rukkie in die tweede helfte goed onder druk gesit.
Hierby is De Koker, wat `n doring in die tuisspan se vlees was, beseer van die veld af. Die skeidsregter, Henry Windvogel, het hom ’n bloukaart gewys, wat daarop dui dat hy moontlik harsingskudding opgedoen het.
Villagers se eerste drie deur die kaptein en haker, McMillan Muller, het juis gekom ná volgehoue stormlope deur die voorspelers op die besoekers se doellyn.
Sy tweede drie deur Teslo-lee Gertse (heelagter) het gevolg ná ’n slim stukkie spel tussen Gertse en Alridge Marthinus (plaasvervanger-senter) nadat albei ’n skop opgevolg het.
Al twee doelskoppe was egter mis – een teen die linkerregoppaal vas en die ander links verby.
Net toe dit begin lyk of Villagers besig is om sy voete te vind en terug in die wedstryd kom, is die wind egter weer uit sy seile gehaal toe die plaasvervanger-senter Johan Stephanus in die tuisspan se kwartgebied met ’n kraglopie vorendag gekom en Robertson se vyfde drie gaan druk het.
Willemse, wat goed gekorrel en net met een skop pale toe gemis het, het met die doelskop geslaag, wat die telling op 33-13 te staan gebring het.
Die tuisspan het egter weer moed geskep toe Marthinus ’n los bal opgeraap en dwarsdeur genael het vir ’n pragdrie onder die pale, wat deur Deelman verdoel is.
Hoewel Villagers hierna steeds moedig probeer en goeie veggees getoon het, was tyd nie aan sy kant nie. Daarby het talle foute hom gepootjie en Windvogel (skeidsregter) het die eindfluitjie minute later geblaas.
Robertson het die kragmeting met 33-20 gewen en sodoende die bordjies – ná sy eersterondeloesing aan die hand van die tuisspan – verhang.
Robertson is in die topposisie op die Breë-Langeberg-punteleer met 78 punte en sal waarskynlik ná die oorblywende twee ligawedstryde as die nuwe Breë Langeberg-streekkampioen gekroon word.





