Robertson spog met twee ouer inwoners wat op dieselfde dag hul doktersgrade ontvang het en wat die Langeberg nou meer kan leer oor fetale-alkohol-sindroom en Afrikaanse letterkunde.
Marlene de Vries (63), en Annette du Plessis (70) het uitgevind dat hulle op 27 Maart by die Universiteit Stellenbosch se gradeplegtigheid albei hul doktorsgrade ontvang nadat hulle mekaar raakgeloop en per toeval ontmoet het.
De Vries het haar doktorsgraad in fetale-alkohol-sindroom (Fas) in die fakulteit van maatskaplike werk voltooi, en Du Plessis hare in Afrikaanse letterkunde in die fakulteit geesteswetenskappe.
Albei dié doktore het telefonies aan Breederivier Gazette verduidelik dit is iets wat nog altyd op hul wenslys was en hulle eindelik vanjaar kon afmerk.
De Vries woon al jare in Robertson, waar sy by die Nasionale Instituut vir Alkoholmisbruik en Alkoholisme (NIAAA) as programbestuurder gewerk het, terwyl Du Plessis en haar man ná hul aftrede nuwe inwoners in die dorp is.
Volgens Du Plessis was sy vir ’n paar jaar ’n Afrikaans-onderwyser, en hoewel sy in die Langeberg kom aftree het, leef sy steeds haar passie vir taal uit deur akademiese artikels te publiseer.
Sy werk aan ’n artikel wat deur Litnet gebruik gaan word, met baie ander toekomstige navorsing wat ook gedoen gaan word.
Haar tesis het gehandel oor gerontologie, oftewel die studie van die sosiale, kulturele, psigologiese, kognitiewe en biologiese aspekte van veroudering van die werke van Elsa Joubert.
De Vries het etlike jare vir die NIAAA in Robertson gewerk nadat sy haar graad in maatskaplike werk ontvang het, maar meer oor Fas wou leer.
Haar navorsing het ingesluit die faktore wat drankmisbruik veroorsaak en lei tot Fas, om te verstaan hoekom swanger vroue drank gebruik en ’n manier te vind om hulle te ondersteun.
Volgens De Vries se navorsing misbruik swanger vroue drank weens ’n gebrek aan ondersteuning van hul familie, of fisieke mishandeling deur die vrou se lewensmaat, wat tot alkoholmisbruik lei om haar swak omstandighede te verdoof.
De Vries het verduidelik dit word dan ’n patroon wat moeilik is om te stuit en tot ’n Fas-baba lei.
Voorkomingsmaatreëls sluit in om die swangerskap te beplan en ’n swanger vrou in die aanloop en deur die swangerskap by te staan, bedagsaam te wees oor alkohol en minder te drink.
Volgens De Vries is die rol wat ma’s in hul kinders se swangerskappe vervul, asook die rol van ouer dogters in húl ma se swangerskap, ’n belangrike faktor wat die voorkoms van fetale-alkohol-sindroom kan laat afneem.
Beide Du Plessis en De Vries meen dit is moontlik om ’n doktorsgraad op jou lysie af te tik met ’n toegewyde studierooster en goeie dissipline sowel as met ’n ondersteunende gesin.





