’n Bejaarde egpaar is verlede week omstreeks middernag deur drie onbekende rowers oorval nadat hulle by die egpaar se huis ingebreek het.
Die man (70) en sy vrou (72), wat alleen in hul huis op Yzerfontein woon, het geslaap toe die inbraak plaasgevind het.
Volgens die polisiewoordvoerder sers. Johnatan Filander het die man ’n stem gehoor en die lig van ’n flits gesien kort voordat die verdagtes hom oorval het. Die verdagtes, wie se gesigte met maskers bedek was, het hom gegryp en met ’n moersleutel op die linkerknie geslaan voordat hulle hom met skoenveters vasgebind het.
Sy vrou het intussen wakker geword en is gedwing om stil te bly.
Die drie verdagtes het sowat vier ure lank deur elke vertrek en kabinet in die huis gegaan en goedere in kussingslope en rugsakke gepak, wat hulle in die egpaar se voertuig gelaai het. Goedere ter waarde van sowat R170 000 en hul voertuig ter waarde van R600 000 is gesteel.
Die polisie het die gesteelde VW Tiguan later sowat 2 km verder van die toneel af verlate gevind. Sommige gesteelde eiendom het in die voertuig agtergebly.
Die verdagtes het deur ’n venster in die kombuis toegang tot die huis verkry nadat hulle die glas verwyder het. Volgens Filander was die sekuriteitskameras van die huis nie geaktiveer nie.
Niemand is nog in verband met die inbraak in hegtenis geneem nie.




