Só het Maria Papendorf van Ashton se hand gelyk nadat sy onlangs deur ’n rondloperhond aangeval is.


’n Vrou van Ashton leef nou in vrees en kan skaars haar huis verlaat nadat sy onlangs deur ’n hond aangeval is toe sy op pad winkel toe was.

Maria Papendorf (46) van Zolani in Ashton sê sy moet loop om te kom waar sy moet. Dinsdag 13 September was geen uitsondering nie, maar ná ’n aanval deur ’n rondloperhond het sy nog nie weer ’n voet uit haar huis gesit nie.

Dit volg nadat Gazette sowat twee weke gelede berig het oor ’n vrou wat in Robertson deur ’n hond aangeval en gebyt is.

“Ek was op pad winkel toe om krag te gaan koop. Ek stap altyd dieselfde roete en sien gereeld honde in die strate. Dinsdag het ek ’n groot hond gesien wat in rommel gegrawe het, maar ek het nie veel daarvan gedink nie. Ek het verbygeloop en oor die pad gestap. Iets het vir my gesê ek moet omdraai. Toe ek weer sien, storm die hond op my af.”

Hoewel sy nie die hond se ras kon uitmaak nie, beskryf sy hom as ’n medium-grootte hond, swart en bruin van kleur met ’n lang stert.

Papendorf sê haar eerste instink was om terug te tree en haar handsak voor haar gesig te hou.

“Ek het geval, maar die heeltyd my gesig probeer beskerm. Die hond het my aan die been gebyt en toe oor my maag geklouter toe ek bly lê het. ’n Man wat op sy fiets af in die pad aangekom het, het gestop en probeer help, waarna die hond toe my hand gebyt het. Ek het hom probeer afstoot en opgespring,” voeg sy by.

Die man op die fiets, Jonn Maart, het die hond toe met sy fiets probeer verjaag. Die hond het glo al knorrende weggehardloop.

“Toe die hond weg is en ek eers weer mooi asem skep, toe sien ek al die bloed. Ek het my dogter gebel en sy het my kliniek toe gevat. Jonn het heelpad by my gebly en my probeer help. Ek is so dankbaar. Dit kon baie erger gewees het.”

Maart het aan Gazette vertel dat hy maar net gedoen het wat enige ander mens sou doen.

“Ek wou haar help. Ek het in die straat gery en die hond wat op die vrou lê, gesien. Ek kon nie anders as om te help nie,” verduidelik Maart.

Papendorf sê sy ly nou aan erge vrees en sien nie kans om haar huis te verlaat nie, maar sy is dankbaar dat die bytmerke en kneusplekke begin gesond word.

Plaaslike dierebeskermings­organisa­sies in die streek is bekommerd oor straathonde wat onversorg is en sonder kos ly. ’n Beroep word gedoen om gevalle van verwaarlosing aan te meld, aangesien hierdie honde dalk siektes kan dra en gevare vir inwoners inhou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article