Markus Vorster, die skrumskakel van die Hoërskool Swartland, op pad om sy eerste drie van twee teen die Hoërskool Hermanus te druk. Foto: David Rossouw

Die Hoërskool Swartland (Rockies) en die Hoërskool Hermanus het mekaar die afgelope Saterdag (18 April) in ‘n vriendskaplike wedstryd op die Hoërskool Swartland se sportterrein in ‘n sportdag die stryd aangesê.

Die eerste wedstryde het die sportdag ingelui toe die twee skole se o.14A-spanne mekaar aangedurf het en is daarna gevolg met wedstryde tussen die o.15A-, o.19B- en o.16A-spanne. Die laerskole Swartland en Hermanus se kaalvoet-o.13A-spanne het die toeskou­ers met opwindende laerskoolrugby in die voorwedstryd voor die hoofwedstryd van die o.19 A-spanne, wat om 14:30 afgeskop het, getrakteer.

Die Rockies, wat die eerste helfte teen die wind begin het, het nie die toeskouers teleurgestel nie en die eerste punte van die wedstryd met ‘n drie van ‘n lynstaan af met ‘n rolmaalbeweging afgerond. Met die doelskop suksesvol, het hulle 7-0 voorgeloop, maar dit was van korte duur, want Hermanus het ná ‘n paar minute teruggeslaan met ‘n onverdoelde drie en die gaping tot 5-7 verminder.

Terwyl die Rockies se pak voorspe­lers die wedstryd voorlangs ooreers en die toeskouers met goeie voorspeler­spel vermaak het, het Hermanus se vlugvoetige agterlyn opwindende spel agterlangs gespeel. Toe halftyd aanbreek, was die Rockies met twee punte voor – 28-26 – en opwindende rugby is vir die tweede helfte voorspel.

Ná rustyd het die Rockies hul meesterskap teen Hermanus in die vaste en losspel getoon en tot ‘n hoër tempo oorgeslaan en Hermanus moes net verdedig. Die Rockies het in die proses nog drie verdoelde drieë behaal, terwyl Hermanus geen teenvoeter vir die Rockies se vurige spel tussen voor en agterspelers gehad het nie. Hermanus het hard probeer met agterlyn- aanvalle wat hul aanvalswapen was, maar kon nie die Rockies se verdedi­ging breek nie en is uiteindelik met 49-26 geklop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article