Ela Meiring (20), ’n bekende plaaslike hardloper, het onlangs aan haar eerste Comrades-maraton deelgeneem en die uitmergelende wedloop voltooi.
Dié inwoner van Klaas Voogds by Robertson hardloop al sedert sy tien jaar oud is en het al aan talle wedlope deelgeneem en baie gewen. Die Comrades was nog een van die wedlope wat op haar doenlysie was.
“Ek wou nog altyd aan die Comrades deelneem sedert my oom dit voltooi het toe ek 13 was. Dit was ’n droom van my.”
Sy het maande gelede begin voorberei vir hierdie wêreldbekende wedloop, wat mense van oral lok.
“Ek het al in Maart met my voorbereiding vir die Comrades begin. Ek was baie opgewonde, maar wel ook ’n bietjie senuagtig, omdat mense soms sulke angswekkende stories oor die wedloop vertel.”
Aan die einde van die marathon was sy net dankbaar dat sy die wedloop in ’n goeie tyd voltooi het. Sy was ook die jongste vrou wat op die dag deelgeneem het.
“Aan die begin van die wedloop het ek goed gevoel, maar teen die einde het my bene begin kramp. Ek het egter aangehou en die eindpunt in 09:17:08 gehaal. Ek was baie bly en dankbaar dat ek kon klaarmaak. Ek voel baie jammer vir die mense wat hard geoefen en voorberei het en dalk siek geword het of nie die wedloop self kon voltooi nie.”
Ela se hardloop-reis duur voort en sy beoog om in Oktober aan die Sanlam- Kaapstad-marathon deel te neem om haar vorige persoonlike tyd in hierdie wedloop te verbeter.


