Robertson Town het Villagers Montagu Saterdag (27 Augustus) in ’n baie gelykop-rugbystryd net-net geklop. Die eindtelling was 24-23 nadat Robertson rustyd 17-8 voor was.
Dié grootuitdaagbekerrugby-wedstryd in die Breë-Langeberg-afdeling is op die Van Zylstraat-sportveld in Robertson beslis.
Die wedstryd moes om 16:00 begin, maar het 25 minute later afgeskop aangesien die skeidsregter laat opgedaag het.
Toe die wedstryd uiteindelik ’n aanvang neem, is die vloei van die spel deur talle onderbrekings in veral die eerste helfte versteur.
Soms was dit as gevolg van beserings, en ander kere het die skeidsregter die wedstryd gestop om met van die spelers en die twee kapteins oor ontoelaatbare spel te praat.
Hoe dit ook al sy – Villagers het vroeg voorgeloop danksy ’n strafdoel deur sy losskakel, Jaydon Pietersen.
Ná sowat twintig minute se spel het Collin Willemse, Robertson se losskakel, die telling met ’n strafdoel gelykgemaak (3-3).
Villagers het daarna weer die voortou geneem nadat John Muller (flank) in die regterhoek gedruk het. Die doelskop was mis. (8-3)
Enkele minute later het Robertson sy eerste drie gedruk toe Gershwin Africa agter die besoekers se doellyn gaan kuier het. Willemse se doelskop was tussen die pale deur en die tuisspan het weer die leisels oorgeneem (10-8).
Net voor rustyd het Robertson sy voorsprong vergroot nadat sy regtervleuel, Keenan Marcus, gaan druk het.
Willemse was weer in die kol met die doelskop en die spanne het gaan water drink met die telling 17-8 in Robertson se guns.
Ná rustyd het Handré Ontong Villagers se tweede drie gedruk. Dit was nadat Marcus op Robertson se doellyn in besit betrap is. Ontong het die bal, met die hulp van twee spanmaats, uit Marcus se hande gepluk en oorgeval.
Ontong het self die doelskop waargeneem, maar mis gekorrel. Robertson was steeds voor met 17-13.
’n Paar minute later het Villagers byna weer gaan druk ná nog goeie spel tussen Adriaan Klaasen en Ashley Monk. Monk is egter enkele meter van Robertson se doellyn deur Jaundré Joseph platgetrek.
Kort hierna het Ontong egter Villagers se agterstand tot een punt met ’n strafdoel verklein. (17-16)
Hier teen die einde se kant het Willemse in Villagers se 22-metergebied deur die verdediging gebars en onder die pale oorgeduik vir ’n pragdrie wat hy self verdoel het.
Dit het die telling na 24-16 geneem, met Robertson steeds voor.
Villagers het in die doodsnikke van die wedstryd uit sy eie kwartgebied begin aanval. Die bal is vinnig tot by sy haastige vleuel, Beon Hartnick, gevoer, wat soos ’n windhond oor die lengte van die veld gehardloop en pragtig afgerond het. Ontong se doelskop was tussen die pale deur.
Ongelukkig vir die besoekers was die uurglas reeds leeg en die eindfluitjie het geblaas met Robertson wat die wedstryd naelskraaps 24-23 gewen het.
Beide spanne se dissipline het gelol. Geelkaarte is aan albei spanne uitgedeel – drie aan die besoekers en twee aan die tuisspan.




