Die Hoërskool Robertson se 520kg- gemengde span het by vanjaar se junior Suid-Afrikaanse toutrekkampioenskap op 23 Maart gewys wat in hulle steek en stof in die ander spanne se oë geskop.
Die span van vier seuns en vier meisies het onverpoosd geoefen ter voorbereiding van die nasionale kompetisie en het in die internasionale afdeling goud behaal ten spyte van die besoekende Engelandse span wat ook deelgeneem het.
Die sport word nie in ’n ouderdomsklas gekategoriseer nie, maar wel in gewigsklasse, wat beteken die span kan saamgestel word uit enige agt leerders tussen graad agt en graad 12.
Die Hoërskool Robertson het twee gesoute afrigters, Anton Gerber en Kobie Phillips, wat die leerders ‘touwys’ maak en brei. Jaco Bothma het ook gehelp met die finale afronding van die span.
Gerber was op skool ’n kranige toutrekker en daarna nog nege jaar ’n nasionale toutrekker.
Hy was in 2002 ’n internasionale toutrek-naaswenner en het kort daarna met afrigting begin.
Hy het reeds sy spanne na drie Wêreld-spele geneem en twee bronsmedaljes verower.
Sy o.23-vrouespan het in 2013 ’n goue medalje in die internasionale afdeling verower, sowel as sy eerste goud vir junior toutrek.
Philips, die skool se ander gesoute afrigter, het haar pa sien toutrek en later as beampte betrokke geraak en toe self begin trek. Sy het internasionaal uitgeblink en sewe jaar lank deelgeneem. In dié tydperk het sy talle medaljes verower totdat sy in 2013 uitgetree het.
Sy was by twee Wêreldspele (die ekwivalent van Olimpiese sport vir nie-Olimpiese sporte) en het ’n bronsmedalje verwerf. Sy het in 2020 begin om die junior meisies by Robertson af te rig.
Volgens Gerber het hy van die begin af aangevoel dat iets spesiaal in die 520kg- gemengde span steek.
Die span het ten spyte van ’n moeilike seisoen met elke kompetisie verbeter en by die junior toutrekkampioenskap die hakke diep ingeslaan.
Hier het die 520kg- gemengde span vir die Hoërskool Robertson geskiedenis gemaak deur die eerste toutrekspan te word wat aan die kampioenskap deelgeneem en boonop goud verwerf het.
Die span reis in Augustus na Switserland om SA by die wêreldkampioenskap te verteenwoordig, waar hulle teen die bestes kragte sal meet.





