Die Hoërskool Robertson is trots op sy Klas van 2022 se matriekprestasies..


Die Hoërskool Robertson het hard gewerk om sy leerders vir die 2022-matriekeindeksamen voor te berei met “bloed, sweet en trane”, waarvan hulle gewis die vrugte gepluk het toe die nuus onlangs aangekondig is dat hulle nóg pryse vir goeie matriekuitslae ontvang het.

Robbies het in Januarie saam met die res van die land se skole uitgevind wat hul slaagpersentasies is en het spog met ’n 98%-slaagsyger en 95%-universiteitsvrystelling gepronk.

Bykomende opwindende nuus het die skool later bereik en Robbies pronk nie net met ’n hoë slaagsyfer nie, maar ook met die 20ste plek in Suid-Afrika as top-lewenswetenkappe-skool en die agtste plek vir rekeningkunde (ook met ’n 100%-slaagsyfer) uit die top-nege skole in die Kaapse Wynland.

Verder het dié hardwerkende skool ook ’n 13de plek uit 20 skole vir die top-ingeneursgrafika-en-ontwerp- punte (IGO) in die Wes-Kaap behaal, met verbruikerstudies in die sewende plek in die Kaapse Wynland.

Laastens (maar nie die minste nie) stap die Hoërskool Robertson ook weg met ’n 10de plek vir rekenaartoepassingstegnologie (RTT) uit 10 skole in die wynlanddistrik.

Volgens die HS Robertson-hoof, Jacques Bradford, geniet die Robbies sulke prestasies reeds van 2017 af, en dit is slegs weens die feit dat die onderwysers en hul leerders so hard werk.

“Die onderwysers sowel as die leerders het baie hard gewerk en gebruik gemaak van spanwerk – die een kan nie sonder die ander nie,” het Bradford telefonies aan die Breederivier Gazette verduidelik.

Elke onderwyser het ’n ander benadering vir die sukses van hul vak se prestasie tydens die 2022-matriekeindeksamen gehad, wat gestrek het van ekstra klasse tot WhatsApp-groepe, het die Robbie-skoolhoof gesê.

Leerders het gebruik gemaak van ekstra klasse, vroeg die oggend nog voordat die skoolklok gelui het, óf ekstra klasse laat in die middag ná die einde van die skooldag.

Die leerders het ook verskeie ou vraestelle deurgewerk om hulself op die eindeksamen voor te berei, en onderwyser-en-leerder-WhatsApp-groepe is gestig sodat leerders hul onsekerhede oor spesifieke kwessies kon uitklaar.

Volgens Bradford het die Hoërskool Robertson se onderwysers hulle vryelik vir die skool se leerders beskikbaar gestel – ’n taktiek waarby die leerders gebaat het en goeie prestasies as gevolg daarvan kon inryg.

Hiérde goed geoliede masjien het geen keer nie en vanjaar word weer na die sterre bo Robertson gereik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article