Die afgelope feestyd het baie drama opgelewer nadat talle robaanvalle op onder meer strandgangers, duikers en swemmers langs die Weskus aangemeld is.

Yzerfontein was geen uitsondering nie nadat ’n branderplankryer ook die slagoffer van ’n Kaapse pelsrob geword het.

Dié branderplankryer, wat verkies om nie identifiseer te word nie, maar al vir jare in Yzerfontein se branders baljaar, het met ’n hele paar bytmerke later daarin geslaag om weg te kom. Die branderplank self het egter in die slag gebly. Die branderplankryer het die voorval as angswekkend beskryf waartydens hy moes kophou, maar hy is dankbaar hy kon betyds wegkom om verdere beserings te vermy.

Brett Glasby, ’n koördineerder by die V&A Waterkant se Twee Oseane-akwarium se natuurlewe-bestuursprogram, het bevestig die spesifieke rob is waarskynlik deur die biotoksien bekend as domoiënsuur, wat deur alge geproduseer word, vergiftig. Dit veroorsaak neurologiese skade.

Volgens Glasby werk plaaslike kenners sedert einde 2021 nou saam met internasionale navorsers om die vreemde gedrag van die robbe te bepaal sedert talle dooie robbe op strande al langs die Weskus begin uitspoel het. Glasby, wat al vir 14 jaar by reddingspogings van die Kaapse Pelsrob betrokke is, verduidelik dat die domoiënsuur gedurende rooigety in skulpvis en ander seediere, wat die alge inneem, voorkom. Hy het op navraag oor hoekom die robbe juis nou en nooit voorheen deur rooigety geaffekteer word, gesê rooigety het onlangs kort na mekaar plaasgevind – in November 2021 en weer in Februarie 2022.

“Die langtermynuitwerking van domoiënsuurvergiftiging, wat die robbe gedurende rooigety opgedoen het, het neurologiese gevolge deur die swelling van die brein en die hart. Wat dan gebeur, is dat die robbe alle sin vir vrees verloor. Soos in die geval by Yzerfontein en al die ander aanvalle langs die Kaapse kus, het die rob besluit om aan te val en te baklei eerder as om te vlug. Die rob het waarskynlik bedreig gevoel, maar in plaas van vlug, soos hulle voorheen sou doen, het hy eerder baklei,” brei hy uit.

Volgens internasionale data het die vergiftiging ’n lewenslange uitwerking, verduidelik Glasby verder.

“Hulle gaan nie sommer dood van die vergiftiging nie, maar omdat hul vluginstink verdwyn het, is hul kanse op oorlewing baie skraal.”

Hy verduidelik dat ’n rob gewoonlik van byvoorbeeld ’n haai af sou vlug. “ ’n Vergiftigde rob gaan nou eerder vir die haai, waar hy ongelukkig tweede sal kom,” voeg hy by.

Hy verduidelik dat mense ook soms skulpvis, wat deur die rooigety geraak was, eet. Die menslike liggaam reageer dadelik en dit kom in die vorm van erge voedselvergiftiging voor, waar die liggaam poog om daarvan ontslae te raak.

Hoewel ’n rob ook moontlik siek word, het hy waarskynlik herhaaldelik van die besmette skulpvis of seediere geëet, wat veroorsaak dat dit in sy stelsel opgeneem is. Hy sê daar is wel ’n moontlikheid dat ander seediere soos dolfyne en walvisse ook hierdeur geraak kan wees, hoewel dit moeiliker sal wees om hulle in die hande te kry as robbe op wie se karkasse toetse gedoen kan word.

Volgens internasionale navorsing het die domoiënsuurvergiftiging sowat 18 maande lank langs die Kaliforniese kus geduur, en net skielik gestop. Hy sê dit kan wel weer in die toekoms voorkom, maar navorsers het nou meer agtergrond van die situasie om daarvolgens op te tree.

Hy bevestig dat ’n rob-byt baie seer is, maar die bakterieë wat van die mond na die wond oorgedra word, is die gevaarlikste deel. Hy stem saam dat ’n kind of iemand wat dalk nie sterk swemmers is nie en op ’n afgeleë plek swem, in groter gevaar sal wees as ’n rob hulle aanval.

Glasby se raad is om ’n veilige afstand van robbe te hou, aangesien robbe wat besmet is deur die biotoksien vir die res van hulle lewe daardeur geraak sal wees.

Wanneer strandgangers ’n rob sien wat dalk vreemd optree, moet hulle die Kaap van Goeiehoop-dierebeskermingsvereniging, die Twee Oseane-akwarium, Houtbaai se reddingsentrum vir robbe of die Seal Rescue and Rehabilitation Centre skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article