‘n Skermgreep van ‘n video wat wys hoe water in die strate van Riverlands afgestroom kom. Foto: WhatsApp


Riverlands het vroeg vanoggend (8 Augustus) oorstroom nadat die wal van ’n dam aan die buitewyke van die landelike dorpie in die omgewing van Dassenberg buite Malmesbury meegegee het. Die vloed het veroorsaak dat talle inwoners in ysige water wat by hul huise ingestroom het, moes opstaan.

Die dam is geleë op die plaas beter bekend as Dassenberg. Sommige gedeeltes is steeds onbegaanbaar, terwyl verskeie inwoners dakloos gelaat is.

Alle nooddienste en die rampbestuurspanne van Weskus-distrik -en Swartland-munisipaliteite, insluitend wetstoepassers en brand -en redding is tans op die toneel, het die woordvoerder van die Swartland-munisipaliteit, Mart-Marie Haasbroek bevestig.

“Die donker het redelik die situasie bemoeilik. Toe dit ligter begin raak, kon ons eers sien wat die ware omvang van die situasie is,” voeg sy by. Die plaaslike polisie op Malmesbury is sowat 04:45 van die noodsituasie in kennis gestel. “Met die polisie se aankoms, was dit duidelik dat die skade baie erger is as wat dit op die oog af gelyk het,” het sers. Henry du Randt, woordvoerder van Malmesbury-polisiestasie gesê.

Twee jong kinders was aanvanklik vermis, maar is intussen weer veilig gevind. “Die twee kinders is intussen vir hipertensie behandel en na die plaaslike Swartland-hospitaal op Malmesbury vir hul beserings wat opgedoen is, geneem,” het Du Randt bevestig.

Die kinders is glo saam met hul huis weggespoel. Tien ander inwoners het ook ligte beserings opgedoen.

Geen inwoners word tans vermis nie.

Volgens die munisipaliteit kan die situasie verander wanneer die areas wat tans weens water afgesny is, later bereik word.

Lt. Kol. Uys van der Westhuijzen van Malmesbury Veiligheid het bevestig dat die vloed groot skade veroorsaak het. Baie huise se mure is omgestoot, teerpaaie is vernietig en strukture het groot skade gekry,” voeg hy by.

Die Riverlands Primêre skool is ook vandag vir leerders gesluit, het Rdl. Richard Jooste gesê. Volgens Jooste is vrywilligers en inwoners tans besig om sop vir die slagoffers voor te berei. Komberse, en droë klere is nou van die noodsaaklike items wat verlang word.

Die humanitêre organisasie Gift of the Givers het ook reeds by Riverlands aangekom om hulp en bystand aan die owerhede en inwoners te verleen. ’n Gesamentlike operasionele sentrum is intussen by die skool opgestel.

Die munisipaliteit het by monde van ’n verklaring ’n beroep op inwoners gedoen om kalm te bly en hul volle samewerking op die toneel te gee. Die munisipaliteit vra ook dat inwoners en partye wat nie op die toneel betrokke is nie, hul daarvan sal weerhou om vals nuus en onwaar gerugte te versprei.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article