Riverlands is Saterdag (17 Augustus) deur nog fratsoorstromings getref nadat ’n vierde dam se wal meegegee het. Foto: Patrys Niemand van Lucky Lucy-stigting


Die situasie in Riverlands was teen Sondagmiddag (18 Augustus) bestendig nadat die water van ’n vierde dam omstreeks 12:00 Saterdagmiddag deur die reeds vloedgeteisterde dorpie gevloei het.

Die inwoners van Riverlands was sedert die oggend van 8 Augustus in chaos gedompel nadat drie damwalle aan die buitewyke van die landelike dorpie in die omgewing van Dassenberg buite Malmesbury meegegee het.

Die Swartland-munisipaliteit was die afgelope Saterdag genoop om inwoners wat noord van die Riverlands Primêre Skool woon, weens die fratsoorstroming te ontruim, lui ’n verklaring wat kort ná die voorval deur die munisipaliteit uitgereik is.

Die mees onlangse oorstroming was direk verbind tot die werk wat deur die departement van water en sanitasie (DWS) by die sogenaamde vierde dam geleë op die eiendom van die departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling uitgevoer is om juis ’n opvolgende noodsituasie te voorkom.

Geen beserings of noodlottige voorvalle is aangemeld nie, behalwe vir talle inwoners wat by die plaaslike Riverlands-kliniek vir skok behandel moes word.

Inwoners het laat Sondagmiddag (18 Augustus) weer na hul wonings teruggekeer, terwyl die munisipaliteit deurlopend bystand aan alle slagoffers gebied het.

“Daar is tans nog 128 inwoners in die munisipaliteit se sorg, wat by twee plaaslike gemeenskapsentrums in Riverlands gehuisves word,” het die munisipale woordvoerder Mart-Marie Haasbroek bevestig.

Inwoners ontvang kos, skuiling, klere en verdere sorg.

Die munisipaliteit se departement vir gemeenskapsontwikkeling werk nou saam met Sassa en die departement van binnelandse sake om slagoffers wat alle persoonlike dokumentasie sedert die vorige naweek se oorstromings verloor het, met dienste by te staan.

Die nodige sorg en bystand word steeds verleen aan inwoners wat wel na hul huise teruggekeer het, maar geweldige verlies aan besittings en skade aan infrastruktuur gelei het. Geen bykomende skade aan infrastruktuur is ná die naweek se oorstromings aangemeld nie.

Saterdag se fratsoorstroming het alle herstelwerk aan waterinfrastruktuur, wat sedert verlede week deur die munisipaliteit behartig is, ongedaan gemaak.

“Die eerste pype wat herinstalleer is, het Saterdag weer weggespoel,” lui die verklaring. Die munisipaliteit sal dus van voor af moet begin om die waternetwerk te herstel. Water word intussen deur ’n vloot tenkwaens aan inwoners verskaf terwyl die netwerk nog buite werking is.

Die vierde dam is volgens die DWS gedreineer en hou geen verdere risiko vir die dorp in nie.

Inwoners is wel gemaan om waaksaam te wees wanneer dit by riviere of stroompies kom wat veral gedurende reënweer sal aanhou vloei.

Die munisipaliteit het weer ’n beroep op inwoners gedoen om nie vals nuus en onwaar gerugte oor die gebeure op die toneel te versprei nie. Die gewone prosedure vir die aanmeld van probleme geld steeds. “Bel die munisipaliteit of stuur ’n boodskap en ons gee dadelik aandag daaraan,” het Haasbroek inwoners herinner.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article