Die groot tweejaarlikse Angus-veiling by “Tollie se Bos” op die plaas De Panne naby Moorreesburg, op 23 Julie, het vanjaar gewys dat nuwe lewe en hoop ná Covid-19 herrys het.
Altesaam 292 diere is met rekordpryse, groot getalle kopers, ’n baie positiewe gees en ’n uiters suksesvolle veiling verkoop.
Dit was uiters vindingryk om twee “meatmaster”-telers te nooi om ook deel te neem. Altesaam 68 belangstellendes het vir die veiling geregistreer, wat bewys het dit was ’n goeie idee.
Die De Panne-Angus-stoet van Jannie en Annie Kotze het 10 swart bulle, vier geregistreerde verse (dragtig of met kalf), vier geregistreerde koeie (dragtig of met kalf) en 40 swart kommersiële verse in alle produksiestadiums, aangebied.
Hoffie en Rentia van Blerk se Spansaam-Angus-stoet het vyf rooi bulle, vyf geregistreerde koeie (dragtig of met kalf) en 10 rooi kommersiële verse (20 maande oud) gelys.
Anysberg-meatmasters van Agenor Lureman en Pierre Rousseau het 40 meatmaster-ooie aangebied, terwyl Henk Kearney en Andries Lesch se stoet, Consentvley, 10 ramme beskikbaar gehad het.
De Panne het 120 meatmaster-skape te koop gehad.
Die veiling, onder leiding van Appie Maritz, is met die meatmaster-skape eerste op die lys geopen.
Anysberg se gemiddelde verkoopprys wat behaal is, het ’n bedrag van R4 600 opgelewer, terwyl Consentvley se top-ram R23 000 gehaal het.
Die gemiddeld prys van die ramme was R11 450, en ooie is teen ’n gemiddelde R4 622 verkoop.
Die Angus-deel van die veiling het rekordpryse opgelewer. Lot nr, 9, ’n swart Angus van die De Panne-stoet, het die SA rekordprys van R300 000 behaal, terwyl die gemiddelde prys R85 000 was. Die rooi Angus-bulle se gemiddelde prys was R80 000 met die top-presteerder wat R100 000 gehaal het om ’n omset van R561 000 te lewer. Die syfer vir koeie en verse was R365 000.
Die hele aanbod op die veiling is verkoop. Verkopers sowel as kopers was tevrede met die verloop van die veiling.
Die meatmaster-verkopers was baie tevrede met die eerste gesamentlike veiling en sê hulle sal graag weer wil deelneem. Dit was gemaklik en lekker om ’n veiling redelik naby aan hul plase by te woon.
Die veiling was nogal ’n massiewe onderneming met onder andere ’n groot span van BKB, tydelike hokke en kampe met voer en water, ’n mobiele barista, vervoerreëlings, spyseniering, ’n groot tent vir die veiling self en baie meer. Alles is puik gereël en het ten spyte van ’n reënbuitjie vlot verloop.
Na afloop van die veiling, terwyl almal die gasvryheid van Jannie en Annie Kotze geniet het, is groot planne reeds vir die 2024-veiling bespreek, en dinge lyk baie belowend.




