Die Wes-Kaapse kanola-oes sal na verwagting ’n rekord van meer as 220 000 ton oplewer.
Noudat kanolaprodusente se 2023-seisoen tot ’n einde gekom het, het Southern Oil (SOILL) voorspel meer as ’n indrukwekkende 220 000 ton kanolasade sal die silo’s vanjaar vul en volgens inligting is dit die grootste oes nog.
Volgens SOILL se landbou-hulpbronbestuurder, Zander Spammer, dra gunstige weerstoestande, gevorderde kanola-kultivars en verbeterde boerderypraktyke tot die rekordoes by.
SOILL wat in Swellendam geleë is, is Suid-Afrika se grootste kanola-aankoper.
Oor die 120 198 ha kanola is vanjaar in onderskeidelik die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Suid-kaap geplant. “Dié gebiede is ideaal vir kanola danksy die gehalte van die grond, die winterreënval, warm en droë somers en vroeë herfsaanplantings. Die reënval van die afgelope jaar het ook in die guns van kanola se groei getel,” voeg Spammer by.
Volgens die Suid-Afrikaanse Oesskattingskomitee se mees onlangse produksieskatting was die verwagte produksie vir kanola 237 450 ton, wat onveranderd is in vergelyking met die vorige maand. “Die oppervlakteskatting vir kanola is 131 200 ha, met ’n verwagte opbrengs van 1,81 ton/ha.”
Johan Pyper, ’n landboukundige vir SOILL in die Swartland-omgewing, sê hulle en die produsente is baie tevrede met hul kanola-oeste.
André Kirsten, ’n produsent van Darling en wat ook op die kanolaspesialiskomitee van Graan SA dien, sê baie landerye in die omgewing van Darling het goed gevaar terwyl ander uiters swak gevaar het.
Die gemiddelde kanola-oes in die Swartland sal volgens Andries Theron van die Proteïennavorsingstigting bogemiddeld wees. Theron, wat ook ’n graanprodusent van Moorreesburg is, sê hy is baie tevrede met vanjaar se kanola-oes. “Die Swartland het oor die algemeen ’n goeie kanolajaar gehad. Daar was uitsonderings waar die lande net te nat was, maar produsente het oor die algemeen ’n goeie oes gehad.”
Hy sê ook die gehalte en die olie-inhoud is baie goed en die uitbreiding van SOILL in Moorreesburg het op die regte tyd gekom. “SOILL het gewis die kapasiteit vir vanjaar se oes,” voeg hy by.
“Ons is dankbaar vir ’n koel seisoen en goeie reënval.”
Hy sê hy weet nie van produsente wat baie probleme met hul oes ervaar het nie.
Hentie Smit, voorsitter van Agri Malmesbury se koringstudiegroep, sê plaaslike produsente in die omgewing was tevrede met hul kanola-oes. Hoewel die koring by hom persoonlik beter as kanola gevaar het, met ’n bo-gemiddelde oes, was hy verheug om te hoor dat die meeste kanolaprodusente goeie oeste ervaar het.
Die finale syfers en gemiddelde kanola-oes per streek word binnekort amptelik deur SOILL aan alle produsente uitgestuur en bekend gemaak.
Vir koring in Suid-Afrika is die verwagte oesskatting 2,152 miljoen ton, wat 0,70% of 15 200 ton minder is as die vorige skatting van 2,167 miljoen ton, en die verwagte opbrengs is 4,0 ton/ha.
Die verwagte produksie in die Wes-Kaap is 1,132 miljoen ton (53%), wat 1,6% of 18 250 ton minder is as die vorige skatting.
Die oppervlakteskatting vir koring is 537 950 ha, waarvan ’n geraamde 365 000 ha, of 68%, in die Wes-Kaap geplant is.
Kirsten sê die jaar was eenvoudig net te nat in sommige dele van Darling en die Swartland. “Jy kan nie verwag dat die chemie in water sy werk gaan doen nie.” Hy sê die stand van die koring was in baie gevalle nie goed nie.
Volgens Theron is hulle net so dankbaar vir ’n gunstige koringoes in die omgewing van Moorreesburg. Dit is wel bekend dat sommige produsente in die Swartland uitstekende oeste op een landery gehad het, terwyl die landery reg langsaan swak gevaar het. “Die koringoes gaan vanjaar ’n rapsie oor die gemiddeld in die groter gebied wees,” voeg hy by.
Hy sê dit is egter nie ’n rekordjaar vir koringprodusente in die gebied nie. “Dit was by party plekke doodgewoon net te nat. Party produsente het hier en daar ook uitdagings met hul proteïen gehad.”
Theron sê die kanola -en koringprys gaan vanjaar ’n groter invloed op produsente se oes hê as die oeste self. “Die pryse plaas vanjaar druk op plase. Die prys van koring is sowat ’n R1 000 per ton minder as die vorige jaar, wat ’n groot verskil maak. Ek het verlede jaar ook meer vir kanola gekry as vanjaar.”
Volgens hom kan graanprodusente baie dankbaar wees met vanjaar se oes, veral as dit realisties geskat is. “Baie boere het moontlik hul oeste oorskat en het meer verwag, maar as jy realisties was, kan jy net dankbaar wees.”
Smit sê die gevoel is dat vanjaar se oes nie was wat verwag is nie. Produsente het met die September-reënval moontlik ’n rekordoes geskat, wat toe nie die geval was nie.
“Die proteïen was oor die algemeen min,” voeg hy by.
Die produksieskatting vir gars is 360 220 ton, wat 5,24% of 19 900 ton minder is as die vorige maand se skatting van 380 120 ton. Die oppervlakte beplant word op 107 600 ha beraam, terwyl die verwagte opbrengs 3,35 ton/ha beloop.
Die verwagte oes vir hawer vir die 2023-seisoen is 36 200 ton en die oppervlakteskatting is 27 500 ha. Die verwagte opbrengs is 1,32 ton/ha.
In die geval van soetlupine is die produksieskatting 16 800 ton. Die oppervlakte beplant met soetlupine is 16 000 ha, en die verwagte opbrengs is 1,05 ton/ha.





