Augustus is orgaanskenkersmaand, en Weskussers word aangemoedig om hulle as orgaanskenkers te registreer.

Orgaan- en veral beenmurgskenkings het die afgelope jaar die media gehaal nadat ’n veldtog van stapel gestuur is om ’n skenker vir Gracelyn “Gracey” Green te vind.

Weskus Nuus, Gazette se susterkoerant, het voorheen berig oor Gracey (1) van Atlantis, wat ’n beenmurg-oorplanting moes kry nadat jeugdige miëlomonositiese bloedkanker by haar gediagnoseer is. Ná maande se gesoek is ’n skenker in Amerika as ’n pasmaat vir ’n skenking identifiseer.

Die Suid-Afrikaanse Beenmurgregister (SABMR) het tydens die veldtog gesê ’n meer diverse skenkersgroep is nodig om die aanvraag na beenmurgskenkers die hoof te bied. Volgens die SABMR is die kans om ’n pasmaat te vind, een uit 100 000. Vir Gracey was die kans selfs kleiner (ongeveer een uit 400 000) weens die gebrek aan skenkers van kleur op die register. Pasiënte is meer geneig om ’n pasmaat binne hul eie etniese groep te vind.

Vir diegene wat op ’n orgaanskenking wag, kan dit ook ’n lang wagtydperk wees. Volgens die Orgaanskenkerstigting het skenkings sedert die begin van die pandemie byna tot stilstand gekom.

Waglyste het dus langer geword en tans wag sowat 4 300 Suid-Afrikaanse volwassenes en kinders op ’n orgaan- of korneaoorplanting.

Watter organe kan oorgeplant word?

Jou hart, lewer en pankreas kan drie mense se lewe red, en jou niere en longe kan tot vier mense help.

Een orgaanskenker kan dus die lewe van tot sewe mense red.

Wat is die verskil tussen orgaan- en weefseloorplantings?

’n Orgaanoorplanting vind plaas nadat ’n individu breindood verklaar is, maar steeds deur ’n asemhalingsmasjien ondersteun word, terwyl weefselherwinning nog enkele ure en selfs dae ná die skenker se dood kan plaasvind.

Organe kom nie slegs van oorledenes af nie, maar kan ook van lewende skenkers ontvang word.

Hoe word ’n mens ’n potensiële orgaan- of weefselskenker?

Die proses is eenvoudig.

Registreer aanlyn of bel die Orgaanskenkerstigting se tolvrye nommer by 0800 22 66 11.

Hulle sal dan ’n orgaanskenkerskaartjie aan jou stuur wat jy in jou beursie bêre. Hulle sal ook ’n plakker stuur wat jy op jou ID en jou rybewys plaas.

Dit is baie belangrik om die besluit met jou gesin te bespreek. Laat hulle weet dat jy jou organe of weefsel ná jou dood wil skenk. Vra hulle om jou wens te respekteer wanneer jy te sterwe kom.

. Nog inligting oor hoe om as ’n orgaanskenker te registreer, is beskikbaar by www.odf.org.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article