Die 19-jarige Casey Pietersen het onlangs sy Springbok-kleure in toutrek ontvang en is tans in Duitsland vir die o.23- wêreldtoutrekkampioenskap.Foto: Leezelle C Tug of War Photography


Casey Pietersen (19) van Malmesbury is reeds in Mannheim, Duitsland, vir die o.23-wêreld-toutrekkampioenskap, waar hy en sewe spanmaats hul visier op ’n goue medalje het.

Hy het as graad 8-leerder met toutrek begin en “raak elke dag al meer verlief op dié sport”, het hy aan Gazette vertel.

Casey, wat vir die Helderbergklub trek, het verlede jaar provinsiale kleure verwerf. Sy visier was egter op Springbokkleure en deelname op internasionale vlak: “Ek het baie druk op myself geplaas hiervoor. Ek moes hard werk en vele opofferings maak om my doel te bereik – veral in terme van beskikbare tyd oor naweke.”

Plaaslik is die amptelike 2024-toutrekseisoen verby, maar nie vir Casey en sy o.23-spanmaats nie. Hulle het Sondag (1 September) vertrek vir hierdie byeenkoms wat van 5 tot 8 September duur. Party spanlede moes nog gewig verloor voordat hulle Woensdag ingeweeg word, soos Casey, wat reeds 3 kg afgeskud het, plus ’n verdere 1,5 kg vandat hy Sondag op die vliegtuig geklim het na inweegtyd toe.

“Baie mense dink dis ’n kwessie van ‘klim op die tou en trek’, maar dis eerder ’n kwessie van fiks wees en stamina opbou, gekombineer met gefokus wees, tegniek en ’n sterk geestelike ingesteldheid – en vertroue in jou spanmaats, want hierdie is ’n spansport. Ons is agt mans wat hard gewerk het om in hierdie nasionale span te kom; ons vertrou en ondersteun mekaar ten volle.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article