Jason Hayman van Kalbaskraal gaan homself vrywillig in die buitelug vir dierebewusmaking vasketting.


Jason Hayman (48) van Kalbaskraal gaan eersdaags ysige weerstoestande aandurf ter bewusmaking en ondersteuning van weerlose diere, wat daagliks die bibberweer in die winter moet trotseer.

Hayman, ’n kampvegter vir dierewelsyn, gaan hom vrywillig vir ’n volle 60 uur met ’n ketting aan ’n hondehok vasbind. Hy gaan dié uitdaging met die hulp van 15 honde, wat die organisasie al gered het, aandurf.

Hayman, die stigter van die nie-winsgewende organisasie Choclate’s Angels-dierebeskerming, het besluit om juis dié uitdaging aan te pak met die hoop om lig te werp op diere wat daagliks in die buitelug sonder enige hitte of beskerming aan ’n ketting vasgemaak word.

Die organisasie word al die afgelope drie jaar deur Hayman bestuur.

Dié veldtog is maar net een van vele wat hy al in die verlede van stapel gestuur het in sy pogings om die lewe vir stemlose diere beter te maak, vertel hy. As passievolle individu wat hom op die welsyn van weerlose diere toespits, hoop Hayman om inwoners, wat Choclate’s Angels gedurende die bewusmakingsveldtog sal ondersteun, se harte aan te raak.

Hayman is sedert die begin van vanjaar se gure reënweer daagliks buite besig om diere te ondersoek, skuiling te gee waar moontlik, komberse om te ruil en kos uit te deel.

Hy bou self die hondehokke wat hy uitdeel.

“Die uitdaging is groot. Vanjaar se winter is koud en temperature gedurende die naweek van die jongste veldtog gaan moontlik tot 2 °C daal,” sê Hayman.

Volgens hom is die babahondjies wat die afgelope twee weke by sy organisasie aangekom het, byna doodgevries.

“ ’n Babahondjie kan nie buite in die koue oorleef nie; so ook nie ouer honde nie. Dit is net nie reg nie,” voeg hy by.

Die organisasie het verlede jaar sowat 600 komberse gedurende die wintermaande uitgedeel, hoewel dit nie so koud soos vanjaar was nie. “Die winter het nou maar eers begin,” beklemtoon hy.

Hayman hoop om R1 000 per uur vir die organisasie in te samel. Geld wat gedurende die veldtog van sowat drie dae lank ingesamel gaan word, gaan direk na die organisasie wat toegewyd is tot die beskerming en rehabilitering van diere in nood.

“ ’n Groot verskil kan gemaak word deur die inisiatief te ondersteun en te verseker dat onskuldige diere die skuiling, liefde en omgee kry wat hulle verdien. Elke bydrae het ’n enorme invloed op die diere se welstand,” voeg hy by.

Hayman nooi ook mense om hom en sy organisasie gedurende die veldtog te besoek. Vrywillige diens by die organisasie, of net blote bewusmaking oor die veldtog en diere in nood, is volgens Hayman ook ’n groot aanwins vir die organisasie.

Belangstellendes kan ’n hondehok ter waarde van R450 borg of komberse, dierekos of geld ter ondersteuning van die diere en die organisasie skenk.

“Kom ons knip die onregverdige behandeling van ons vierpotige vriende kort,” moedig hy inwoners aan.. Hayman is van Vrydag 23 Junie van 18:00 tot 06:00 op 26 Junie by Choclate’s Angels-dierebeskerming in Skoolstraat in Kalbaskraal.

Besoek www.choclate-angels.org.za vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article