Siva Padiachy, kaptein van die Robertson Rangers, stamp ’n Citrusdal-verdediger uit die pad terwyl hy voortstorm. Rangers het die Top 12-uitspeelwedstyd in die doodsnikke 39-36 gewen. Foto: Norman Evertson

Credit: SYSTEM

ROBERTSON – Die Citrusdal-rugbyspan het Saterdag (22 Oktober) die Van Zylstraat-sportterrein soos ’n stormsterkte wind getref en byna die Robertson Rangers-span van die veld tot in die Breërivier gewaai.

Dié twee spanne was in ’n baie opwindende en spannende groep B-Grootuitdaag-Top-12-uitspeelwedstryd slaags.

Die uitslag was tot aan die einde in die weegskaal, maar die wedstryd sal veral onthou word vir Rangers se terugvegpoging nadat hy twee keer in die wedstryd ver agter was – 19-0 en 36-12.

Citrusdal het sy voorneme van die afskop af baie duidelik gemaak. Hy wou die spel so vinnig as moontlik maak, die bal wyd speel en Rangers op dié manier uitoorlê.

En hy het dit in ’n groot mate – veral in die eerste helfte – reggekry. Hy het Rangers aan flarde gehardloop en ná ’n blitskrieg van drie drieë binne sowat tien minute ewe skielik 19-0 voorgeloop nadat een doelskop nie die kol getref het nie.

Ondersteuners het in ongeloof toegekyk hoe hul liefling-span uitmekaar gehardloop word.

Nadat die blou truie die derde keer agter hul doelpale kringetjie gevorm en probeer uitwerk het hoe hulle die geweldige aanslae van die lemoen truie kon stuit, het die momentum vir ’n wyle na die tuisspan geswaai.

Rangers het begin rug styfmaak en met twee drieë teruggeslaan om die telling na ’n meer skaflike 19-12 te bring, nadat een doelskop ongelukkig mis was.

Maar net toe dit wou lyk of die stormwind van die Cederberge af uitgewoed was, het dit skielik weer stof opgeskop.

Toe die toeskouers weer hul oë uitvee, het die telbord op 36-12 gestaan nadat Citrusdal in ’n kort rukkie weer drie keer agter Rangers se doellyn gaan kuier het.

Ná hul soveelste gedwonge vergadering agter hul doelpale het Siva Padiachy, die kaptein, en sy spelers met mening begin terugbaklei.

Met die aanbreek van rustyd was die telling 36-22 nadat Rangers met twee onverdoelde drieë teruggeslaan het.

Nadat die spanne ’n welkome blaaskans geniet het, het Rangers met meer dringendheid gespeel.

Kort ná die hervatting van die spel het sy losskakel, Dawie Conradie, met ’n skepdoel geslaag en sowat vyf minute later het Rangers ’n verdoelde drie aangeteken, wat die telling 36-32 gemaak het en hom binne die bereik van ’n oorwinning geplaas het.

Terwyl Rangers homself in die tweede helfte reggeruk en stadig maar seker terugbaklei het, het dinge vir Citrusdal begin skeefloop.

Nie net het hy sy nr. 6-flank weens ontoelaatbare spel vir tien minute verloor nie, maar ook – in ’n poging om die gaping tussen hom en Rangers te vergroot – met twee strafdoelpogings pale toe misluk.

Citrusdal se duurste fout van die middag was egter toe hy, met speeltyd reeds verstreke, ’n lynskop (van ’n strafskop) nie uitgeskop het nie.

Rangers het die bal gevang en in ’n laaste desperate poging om ’n oorwinning te bewerkstellig, ’n aanval begin, wat tot groot vreugde van die ondersteuners en spelers op ’n drie in die linkerhoekie uitgeloop het.

Die doelskop was tussen die pale deur en Rangers het sy eerste Top-12-uitspeelwedstryd in die doodsnikke met ’n hardverdiende 39-36 gewen.

Hoewel hierdie wedstryd Rangers se tekortkominge ontbloot het, het dit ook die span se karakter en durf gewys.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article