Marco Jones, ’n kranige losvoorspeler van die Robertson Rangers, maak gereed om die bal na ’n spanmaat aan te gee. Rangers het op die Callie de Wet-sportterrein in ’n Grootuitdaagbekerligawedstryd teen Swellendam kragte gemeet. Rangers het die wedstryd 29-15 gewen. Foto: Norman Evertson


ROBERTSON – Die verdedigende Breë-Langebergkampioen, Robertson Rangers, het weer die topposisie in dié streek van die Boland rugbyunie se Grootuitdaagbekerkompetisie herwin, nadat hy met Swellendam rugbyklub afgereken het.

Rangers het dié Grootuitdaagbekerligawedstryd teen Swellendam op die Callie de Wet-sportterrein redelik maklik met 29-15 gewen nadat hy met rustyd reeds 12-0 voor was.

Rangers se eerste punte het gekom van ’n drie deur die linkervleuel, Navan Padiachy, wat deur Victor Benjamin (losskakel) verdoel is.

Die tuisspan se tweede drie (nie verdoel nie) is aangeteken deur Sachin Snyman (haker) ná ’n dryfmaalbeweging vanuit ’n lynstaan binne die besoekers se kwartgebied, wat die rustydtelling op 12-0 te staan gebring het.

Nadat die spanne kante geruil het, het Swellendam goed aangeval en die tuisspan onder druk geplaas. Rangers het in sy pogings om die besoekers van sy doellyn weg te hou, verskeie strafskoppe afgestaan.

Een van die strafskoppe is deur Swellendam se Wilhelm Odendaal tussen die pale deur geskop, wat die telling 12-3 gemaak het.

Kort hierna het Rangers egter sy voorsprong vergroot toe Nathan Carolus (buitesenter) vir sy span se derde drie agter die besoekers se doellyn gaan kuier het. Benjamin het seker gemaak van die doelskop en die telling na 19-3 laat aanskuif.

Benjamin het hierna self Swellendam se doellyn oorgesteek, maar die skeidsregter, Craig Williams, het aangedui daar was ’n vorentoe-aangee en die “drie” is dus nie toegeken nie.

’n Paar minute later is die bal deur Swellendam onderskep, maar Williams het sy fluitjie geblaas en die speler in sy spore laat vassteek. Hy het beslis dat die speler in ’n onkant-posisie was.

Die besoekers se eerste drie het egter kort hierna gekom.

Swellendan het, nadat Rangers vir ’n oortreding gestraf is, ’n vinnige tikskoppie geneem en Danfred Stefoor (flank) het langs die linker regoppaal afgerond. Odendaal se doelskop was in die kol en die telling het tot 19-10 gestyg.

Ná die hervatting van spel het Rangers groot druk op die besoekers in hul kwartgebied uitgeoefen. Ná volgehoue druk en verskeie stormlope het die tuisspan se kaptein en agsteman, Sivalingham (Siva) Padiachy, oor die doellyn gebars vir sy span se bonuspunt-drie.

Benjamin se doelskop was teen die linker regoppaal vas. Die telbord het egter, ná Siva se drie, aangerol na 24-10 in die tuisspan se guns.

Nie lank hierna nie het die besoekers sterk aangeval, waarna Shane Abrahams (heelagter) ’n mooi agterlynbeweging met ’n prag-drie in die regterhoek afgerond het.

Hoewel Swellendam tot die einde toe hard probeer het, was Rangers eenvoudig net te sterk vir die span wat tans die agterhoede op die punteleer dek.

Rangers het die kragmeting 29-15 in sy guns beklink en daarmee weer die eerste posisie op die punteleer ingeneem.

’n Kommerwekkende aspek was egter die hoeveelheid strafkaarte wat die skeidsregter uitgedeel het. Williams het vyf geelkaarte uitgepluk – twee vir Rangers en drie vir Swellendam– wat op die spanne se swak dissipline dui.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article