Die Montagu-rugbyklub se span, wat verlede jaar voortreflike rugby gespeel en tot Boland se Top 12-kompetisie deurgedring het, sukkel vanjaar erg om op dreef te kom.
Die span het Saterdag (6 Mei) sy derde agtereenvolgende nederlaag gely nadat Worcester Villagers hom in ’n titaniese stryd met 32-28 getroef het.
Montagu het die Grootuitdaagbekerligawedstryd op die King Edward-sportterrein goed begin en ’n skaflike voorsprong van 14-0 danksy twee verdoelde drieë opgebou.
Villa, soos die besoekers ook bekend staan, wat tot nou ook nie juis die wêreld aan die brand gespeel het nie, het nogtans met ’n indrukwekkende terugvegpoging vorendag gekom en vier drieë gedruk om die voortou met 26-14 te neem.
Die tuisspan, wat tans laag op die punteleer lê en baie graag weer op die wenpad wil kom, het met ’n verdoelde drie geantwoord en sy agterstand na net vyf punte verklein, met die telling wat 26-21 geword het.
Montagu het verbete voortbaklei en minute later selfs weer die voortou met 28-26 geneem nadat hy nog ’n verdoelde drie behaal het.
Villa was egter vasberade om as oorwinnaar van die veld te stap en het met twee suksesvolle strafdoelpogings seker gemaak dat hy dié titaniese stryd 32-28 in sy guns beklink.
In ’n ander Grootuitdaagbekerstryd, wat op die Callie de Wet-sportterrein in Robertson beslis is, het Villagers Montagu die onderspit teen die verdedigende Breë-Langebergstreekkampioen, Robertson Rangers, gedelf.
Rangers het die besoekers uit Montagu 36-27 met die kous oor die kop huis toe gestuur.
Charlton Fortune (senter), Bradley Ruiters (agtsteman), MacMillan Muller (haker en kaptein) en Emmerick Rayners (plaasvervanger-skrumskakel) het vir Villagers gaan druk.
Beon Hartnick (regtervleuel) het die res van die punte met twee doelskoppe en ’n strafdoel bygevoeg.
Die driedrukkers vir die wenspan was Marco Jones, Nathan Carolus (2), Renaldo Appolis en Eswill Sauls.
Amozan Jansen se skopstewel het die res van die punte aangeteken – hy het met vier doelskoppe en ’n strafdoel geslaag.
Jones, die kragtige losvoorspeler van Rangers, was met sy bekende sterk stormlopies ’n doring in die besoekers se vlees en is ook welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.
Beide spanne se dissipline het egter ook gelol en die skeidsregter, Christo Jacobs, het nie minder nie as vier strafkaarte (geel) – twee aan elke span – uitgedeel.
Rangers gee met hierdie oorwinning weer die pas in die Breë-Langeberg aan.




